Dr. Michelle van Zyl was in Januarie 2015 die hoof van ongevalle by die MediClinic op Stellenbosch. Sy het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig Henri het die oggend van 27 Januarie 2015 uit eie wil saam met James Reade-Jahn, sy suster, Marli, se destydse vriend, na die kliniek gegaan vir die behandeling van sy wonde.

James het op 11 Mei getuig hy en Henri was goeie vriende. Op 10 Januarie 2015 het James ’n skokkende boodskap aan Marli gestuur: “Ek wil die mense om jou vermoor.”
Van Zyl het Maandag ook getuig Henri se wonde was nie diep genoeg vir steke nie. Volgens haar was hy by sy volle positiewe en in staat om ’n gesprek te voer.
Van Zyl het getuig sy het twee “clips” gebruik om die vel rondom die wond bymekaar te bring. Sy was verbaas deur Henri se stug, formele manier met haar in teenstelling met haar eerste kontak vroeër die oggend met hom. Toe was hy vriendelik en ontspanne. Sy het hom daarna ontslaan.
Sy tweede besoek was ’n opvolgbesoek wat om 21:45 plaasgevind het. Die polisie was toe teenwoordig.

Sy het getuig albei Henri se oë het swelling getoon. Dit het ook begin verkleur. In haar verslag noem sy dat snye deur ’n skerp voorwerp veroorsaak is.

Sy het ook in haar verslag melding gemaak dat van die wonde “oppervlakkig” is. “Die snymerk aan sy buik is 1,5 cm. Dit is nie aktief aan’t bloei nie. Die lengte van krapmerke op sy lyf: linkervoorarm - 3 cm, linkerkant van bors - 6 cm, regterkant van bors - 8 cm. Daar is ook ’n klein prikwond (puncture) aan sy linkerbors.” Van Zyl het ontken dat Henri breinskade opgedoen het. Sy het geen pynmedikasie aan hom voorgeskryf nie. Sy pynvlak word as 7/10 op die pynskaal gereken. Sy het voorts getuig sy het alkohol by Henri geruik. Adv. Pieter Botha (vir Henri) het dit aan haar gestel dat dit waarskynlik van wyn was wat hulle die vorige aand gedrink het.

Vroeër tydens die verhoor het Botha aangedui bloedtoetse het bewys geen dwelms of alkohol is in Henri se liggaam gevind nie.