Sy het hom 10:30 op die oggend van 27 Januarie 2015 ondersoek.
Sy gaan deur ’n lysie van krapmerke wat sy op Henri se liggaam gevind het. Hy het beserings aan sy arm, rug, bene en borsbeen gehad. Sy het nie die beserings as ernstig genoeg geag om die polisie te versoek om Henri na hul dokter te neem nie.

Sy getuig dat sy ’n verandering aan haar verslag aangebring het omdat die wond nie ’n “krap” was nie, maar eerder ’n “sny” en beskryf die verskil tussen die twee as volg: ’n krap word deur iets stomp veroorsaak en ’n sny deur ’n skerp voorwerp. Albertse beskryf Henri se kopwond as iets wat meer ooreenstem met ’n wond toegedien met ’n stomp voorwerp en dat dit nie ’n oop wond was nie. Sy beskryf die besering aan sy rug eerder as weens wrywing, waar die boonste deel van die vel afgeskraap is, soos met “grass burn”. Sy wonde stem ook nie ooreen met dié wat in ’n val, soos beskryf in Henri se getuienis, opgedoen sou word nie.

Onder kruisverhoor vra adv. Pieter Botha hoekom Albertse ’n pen in een van Henri se wonde gedruk het. Dit het hom seergemaak en hy het weggeruk. Sy sê dit het nie vir haar na ’n diep wond gelyk nie en het die diepte op 10 mm aangedui. Botha sê dat ’n ander dokter, dr. Dempers ’n wonddiepte van 50 mm gevind het. Albertse dui aan dat sy tekens begin sien het dat Henri onder die invloed van alkohol of dwelms was.
Botha voer aan dat Henri deur die aanvaller gesny is toe hy hom probeer keer het. Hy haal die mes uit en demonstreer aan die hof hoe Henri die wonde opgedoen het.

Albertse noem dat Henri se pupille klein en traag was om te reageer toe sy ’n lig daarin geskyn het.

Botha vra of dit moontlik is dat Henri in sy val harsingskudding kon opgedoen het. Sy sê dit is moontlik. Henri het gesê hy het sy bewussyn verloor toe hy geval het. Hy het ook beheer oor sy blaas verloor, iets wat Albertse ook as ’n moontlikheid aanvaar wanneer iemand bewusteloos is.

Die hof verdaag tot Donderdag 10:00.