Daar is DNS van Henri, sy broer, Rudi, en sy ma,Teresa van Breda, in die bloedvlekke in die stort van die gesin se luukse woning gevind.

So het lt.kol Sharlene Otto, een van die land se voorste DNS-deskundiges, Maandag in die saak teen Henri van Breda getuig.

Henri se moordverhoor is vandag in die hooggeregshof in Kaapstad hervat met die voorlegging van forensiese getuienis deur die staat.

Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord op sy pa, Martin (54), sy ma, Teresa (55), en sy ouer broer, Rudi (22).

Hy staan ook tereg op 'n klag van poging tot moord op sy suster, Marli, en een van regsverydeling.

Henri het op 24 April vanjaar skuld op al die aanklagte ontken.

Otto het voor etenstyd oor die resultate van DNS-toetse in die moordhuis en verskeie bewysstukke getuig. Die bewysstukke is oor 'n tydperk van ses maande ontleed.

Otto het die volgende aan die hof meegedeel:

  • DNS van Teresa en Rudi is onder Henri se linkerhand se naels gevind.
  • DNS van Teresa en Rudi is op die voorkant van die byl gevind.
  • DNS van Henri is op die byl se handvatsel gevind.

  • DNS van Rudi, Teresa asook Henri is in die hoek van die stortvloer gevind.
  • DNS van Rudi is op die mes se handvatsel gevind.
  • DNS van Rudi is onder sy pa, Martin, se naels gevind.
  • Rudi se DNS is op sokkies, 'n kortbroek, in bloedvlekke op 'n deur en op die vloer, in die badkamer en in talle ander bloedvlekke in die huis gevind.
  • Martin se DNS is op sokkies, 'n kortbroek en in talle bloedvlekke in die huis gevind.
  • Teresa se DNS is in talle bloedspatsels in die huis gevind.
  • Marli se DNS is op die vloer van die huis se eerste verdieping gevind.
  • Henri se DNS is op kortbroeke en talle bloedvlekke in die huis gevind.
  • DNS van Rudi en Teresa is in bloedvlekke op Henri se kortbroek gevind.

Die saak duur voort.