Dit is die bevinding van dr. Leon Wagner, forensiese patoloog in Bloemfontein, oor Maandag se onthullings in die Henri van Breda-hofsaak.

Maandag is daar in die hooggeregshof in Kaapstad deur lt.kol. Sharlene Otto, een van die land se voorste DNS-deskundiges, in die saak teen Henri getuig. 

Henri staan tereg op drie aanklagte van moord op sy pa, Martin (54), sy ma, Teresa (55), en sy ouer broer, Rudi (22), by die De Zalze-gholflandgoed.

Hy staan ook tereg op 'n aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, en een van regsverydeling.

Otto het Maandag aan die hof gesê dat daar DNS van Teresa en Rudi onder Henri se linkerhand se naels gevind is.

DNS van Henri is ook op die byl se handvatsel gevind.

Wagner sê die DNS “verbind die byl met die beskuldigde en die slagoffers”.

“Hoe gaan hy sy teenwoordigheid op die toneel verklaar asook die afwesigheid van 'n ‘onbekende’ persoon se DNS?”

Wagner noem verder dat die DNS onder die beskuldigde se naels wys op “ 'n nie passiewe maar 'n aktiewe proses aanduidend dat daar 'n skraapbeweging van die beskuldigde se hande se naels aangebring is op die slagoffer”. 

“Jy kry nie weefsel van 'n ander persoon onder jou naels deur passief aan so 'n persoon te vat nie.

“Daar móét 'n skraapbeweging wees oor die vel wat nie noodwendig met die blote oog sigbaar is  nie. 

“As skraapletsels wel aanwesig is, is dit 'n bonus,” sê Wagner.

Die hofsaak duur voort.