Onder kruisverhoor word deur adv. Pieter Botha beweer dat die polisie aan Henri sou sê hulle het vir Marli ’n dwelm ingegee wat haar “wawyd wakker” gemaak het en hulle alles vertel het. Sers. Clinton Malan ontken die bewering.

Malan het Vrydag reeds tydens die binneverhoor begin getuig. Hy was die persoon wat Henri na die distriksgeneesheer geneem het vir die behandeling van sy wonde. Malan het ook Henri se verklaring afgeneem.

Hy het getuig dat Henri as ’n slagoffer nie as ’n verdagte beskou was nie. Hy het Maandag bevestig dat Henri nie van sy regte ingelig is nie.

Adv. Pieter Botha (vir Henri) kap na Malan oor ’n T-hemp: Malan beweer Henri het een aangehad, maar die distriksgeneesheer se verslag maak geen melding daarvan nie, bloot net van bloedmonsters en sy slaapbroek.

Malan sê Henri was reeds in die ambulans toe hy op die toneel by die De Zalze-gholflandgoed aangekom het. Hy kan nie onthou wie vir Henri uit die ambulans gehelp het sodat hy hom na die dokter kan neem nie.

Daar word tydens kruisverhoor groot gewag gemaak van die T-hemp al dan nie.

David Chambers, buro-hoof van die Sunday Times in Kaapstad, is ook Maandagoggend deur regter Siraj Desai oor die vingers geraps nadat foto’s van Marli van Breda in die Sondagkoerant verskyn het. Regter Desai aanvaar sy apologie.

Henri word daarvan aangekla dat hy sy ma, Teresa (55), pa, Martin (54), en broer, Rudi (22), in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch met ’n byl afgemaai het. Hy word ook aangekla van poging tot moord op sy kleinsus, Marli (17), wat erge kopbeserings in die aanval opgedoen het asook regsverydeling.

Volg die saak regstreeks hier: