Hy staan tereg vir die driedubbele moord op sy pa, Martin van Breda (54), sy ma, Teresa (55), en sy broer Rudi (22) asook die brutale aanval op sy suster, Marli. Die saak word tans in die hooggeregshof in Kaapstad verhoor.

Skuldig of nie, sedert die gru-aanval op sy gesin op 27 Januarie 2015 kon dit nie maklik gewees het vir Henri nie.

Op Moedersdag vanjaar stuur Teresa se suster, Leenta en haar swaer, Chris Nel, vir Henri 'n boodskap vanuit Kanada.

Liewe Henri,

Ek dink aan jou. Wens ek kon jou 'n drukkie gee. Jou hoop lê in die toekoms. Mag jy krag kry om die nuwe week aan te pak. Jy toon innerlike krag. 

Chris en Leenta.

Henri antwoord terug:

Baie dankie vir die sagte woorde, dit beteken soveel op hierdie oomblik. Ek vat dit dag vir dag maar ek glo alles sal uitwerk. Baie liefde, Henri en Daniellé (sy meisie)

Die boek

Dié inligting, en veel meer, verskyn binnekort in 'n boek wat deur ‘n familievriend van die Van Breda-gesin geskryf is. 

Die De Zalze-moorde, geskryf deur Jaap Rabie, gaan na verwagting ná afloop van die opspraakwekkende verhoor op die rakke wees.

Jaap, ‘n universiteitsvriend van Leenta, sê hy het eksklusiewe insig in die familie en weet wat agter die skerms gebeur.

“Ek en Leenta was voor die moord vir lank vriende gewees op Facebook,” vertel Jaap vanuit sy huis op George.

“Sowat 'n dag of twee na die moorde het Leenta op haar blad geskryf dat sy nie kommentaar mag lewer oor die moorde nie. Ek het toe besef sy is familie van die van Breda’s.

“Vir langer as 'n jaar wou Leenta nie veel uitbrei oor die familie nie. Maar na 'n ruk het sy wel besluit om met my te gesels,” vertel Jaap.

Hy sê sy boek is in die styl van 'n speurverhaal geskryf. Daarin verklap hy meer oor die verhouding tussen die Van Breda-familielede en deel ook foto’s van Henri se grootwordjare wat nog nooit vantevore gepubliseer is nie.

Jaap sê hy het ook met Teresa se ander susters asook van haar vriendinne gesels terwyl hy aan die boek gewerk het.

Susani van der Linde (vriendin) onthou

"In Oktober 2014 was ek in Suid-Afrika in die Kaap vir ons aanstaande skoondogter se kombuistee. Het in daardie dae 'n heerlike paar urelange laatmiddag-tot-in-die-aand kuiertyd met Teresa gehad in hul woning in De Zalze. Hul hondekind (Sasha) het heeltyd tussen ons op die bank gelê.

"Teresa het ons laat lag toe sy onder meer beduie hoe sy, na haar aankope van al die nuwe linne en beddegoed, die pad aangedurf het met haar motortjie tot die dak toe gepak.

"Sy was so opgewonde oor haar nuwe stoele vir hul nuwe eetkamerstel (my Leon het in dieselfde tyd vir Martin in Perth op die lughawe ontmoet vir 'n vinnige koffie, voor sy vlug terug Johannesburg toe).

"5 Desember 2014 was dit so lekker om Martin en Teresa (die enigste Perth-vriende wat dit kon maak) op ons seun se troue in Stellenbosch te kon hê!

"Ons het lekker gesels na die kerkdiens en by die onthaal, en die aand gegroet met die gedagte dat Teresa en Martin die volgende dag na die troue saam met ons familie sou kom spitbraai het.

"Sy’t nog gevra of dit reg is as Henri ook saamkom. Teresa het vroeg die volgende oggend gebel en gesê Martin voel nie wel nie en hul sou nie meer kom nie.

"Dit was ons laaste gesprek. So dankbaar vir mooi herinneringe aan haar in haar blouste blou rok, blou oë en blou kruisie-hangertjie om haar nek. . . "

Die saak teen Henri

  • Henri staan tereg op drie aanklagte van moord op sy pa, Martin (54), sy ma, Teresa (55), en sy ouer broer, Rudi (22).
  • Hy staan ook tereg op 'n aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, en een van regsverydeling.
  • Die familie is op 27 Januarie 2015 met ’n byl in hulle huis op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch aangeval.
  • Henri het 24 April vanjaar skuld op al die aanklagte ontken.