Henri van Breda verskyn weer op Maandag, 7 Augustus 2017, in die Kaapse hooggeregshof in verband met die bylmoorde waartydens drie mense hul lewens verloor het en 'n vierde die aanval wonder bo wonder oorleef het.

1. Die gesin

Die Van Breda gesin het in 2014 vanuit Perth, Australië, na Suid-Afrika teruggekeer en hulle op die luukse De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch gevestig.

2. Martin van Breda (54)

Hy was ’n uiters suksesvolle besigheidsman en direkteur van minstens 25 maatskappye. Hy was luidens berigte die stigter van Netstar wat hy daarna aan Altech sou verkoop het.

Hy het Woodhill College, ’n privaatskool in Pretoria ontwikkel wat in 2011 deur Curro Holdings vir ’n allemintige R185 miljoen gekoop is.

Martin het die Australiese filiaal van die internasionale eiendomsgroep Engel & Völkers besit.

3. Teresa van Breda (55)

Teresa het rekenaarwetenskap aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, nou bekend as die Universiteit van Johannesburg, studeer. Sy word deur talle as ’n “lieflike mens” beskryf.

Kort voor die grusame moord was sy volgens ’n bron naby aan die Van Breda-gesin opgewonde oor ’n reis na Italië waar sy ’n kookkursus sou doen.

4. Rudi van Breda (22)

Die gewilde jong man was besig met sy meestersgraad in ingenieurswese aan die Universiteit van Melbourne. Hy word deur vriende as “warm, gaaf en uniek” beskryf.

Een van sy vriende, Sam Fearon, het ’n spesiale liedjie vir Rudi geskryf. 

5. Marli van Breda (destyds 16)

Sy het tydens die aanval breinbeserings opgedoen nadat haar hoofslagaar deur ’n byl afgekap is. Sy kon destyds luidens berigte niks onthou van dit wat daardie nag in die huis gebeur het nie. Dit sou vyf maande duur voordat sy weer terugkeer skool toe.

In Oktober 2016, met Marli se 18de verjaardag, het die Kaapse hooggeregshof beslis sy sal vir ’n verdere jaar onder die wakende oog van ’n kurator deurbring.

Die kurator, adv. Louise Beukman, se grootste rolle is om Marli te beskerm van die media en besluite te help neem rakende haar onderrig.

“Ek sal voor die einde van Januarie 2018 weer ’n verslag oor Marli se vordering by die hooggeregshof indien om te bepaal of sy steeds ’n kurator moet hê wat haar bystaan,” het sy bygevoeg.


6. Henri van Breda (destyds 20)

Henri was die middelste van die Van Breda-kinders. Hy het in Februarie 2016 ingeskryf as ’n student aan die Capsicum-sjefskool in Woodstock, Kaapstad.

Op 13 Junie 2016 gee hy homself oor by die Stellenbosch-polisiekantoor en verskyn die volgende dag in die plaaslike landdroshof.

Hy verskyn op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van regsverydeling. Borgtog van R100 000 word toegestaan.

7. Hooggeregshof

Die saak word na die Kaapse hooggeregshof oorgeplaas. Henri verskyn die eerste keer op 9 September 2016, maar die saak word uitgestel vanweë uitstaande forensiese verslae.

Nog ’n paar uitstellings volg tot waar die verhoor op 23 April 2017 wel ’n aanvang neem.

8. Binneverhoor

Na afloop van ’n uitgerekte binneverhoor, beslis regter Siraj Desai op 1 Junie 2017 dat die media wel die lykskouingsverslae mag publiseer en dat Henri se verklaring as bewysstuk toegelaat word.

9. "Laggende aanvaller"

In sy verklaring wat Henri op 27 Januarie 2015 afgelê het, vertel hy dat hy gehoor het hoe sy ma aangeval word.

Hy beskryf hom ’n goed-geboude “laggende” aanvaller wat na hom gekyk het voordat hy ook met die byl aangeval is.

10. Die vliegtuig

Vir die duur van sy verhoor, dra Henri elke dag ’n lapelwapentjie - ’n silwer vliegtuig. Dit is volgens sy regspan ’n geskenkie van sy meisie, Danielle Janse van Rensburg wat hy dra omdat dit “mooi is en hy daarvan hou.”

Bykomende bron: news24.com