Joubert, 'n kundige op die gebied van bloedspatsels en patrone van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het Dinsdag verder in die Kaapstadse hooggeregshof getuig.

1. Bloedvlekke (67) is op Henri se grys kortbroek gevind.

Daarvan was 35 afkomstig van Rudi, vyf van Martin en nege van Henri self. Die aantal bloedvlekke wat nie tekens van bloedspatsels getoon het nie, suggereer dit het op die voorkant van die broek gedrup.

2. Joubert sê Rudi het op sy maag gelê met sy gesig na die muur; hy was in alle waarskynlikheid aan die slaap.

Hy beweer Martin het vir Rudi te hulp gesnel toe hy aangeval is. Martin het beserings aan sy rug, nek en kop opgedoen en het nie die kans gehad om homself te verdedig nie.

3. Bloed van Rudi, Martin en Teresa is op en aan die kant van Henri se wit sokkies gevind.

Dit dui op nabyheid aan die bronne van die bloed.

4. Bloed is ook aan die mure. ’n lampskerm, die vensterbank en ’n bedkassie in Rudi en Henri se kamer gevind.

Die impak waarmee Rudi getref is, was so intens dat sy bloed deur die venster tot teen die bure se muur gespat het.

5. Rudi is deur ’n plas bloed gesleep of beweeg nadat hy aangeval is.

6. Die bloed het begin stol voordat Rudi na die slaapkamervloer geskuif is.

7. ’n Grys duvet wat aan Henri behoort het, is van die bed afgehaal na die moorde.

Die bebloede mes is moontlik op die bed neergsit.

8. Teresa het in alle waarskynlikheid na haar aanvaller gekyk toe sy aangeval is.

Sy het houe aan die linkerkant van haar kop opgedoen. Haar lyk is by die ingang tot die seuns se kamer gevind. Impak-bloedspatsels het ontstaan toe Teresa met mening naby die vloer voor die kas in die gang aangeval is.

9. Marli het volgens sers. Kleynhans, wat eerste op die toneel was, haar regterarm beweeg toe sy gehoor het hoe hy noodoproep gemaak het.

Foto’s van die beserings wat Marli opgedoen het, is in die hof gewys. Sy het snymerke aan haar voorarm gehad wat suggereer dat sy haarself probeer verdedig het.

10. Bloed in die stort dui op bloedbevlekte voorwerpe wat daar gewas/skoongemaak is.

Volgens sy verklaring, het Henri nie na die aanval na die badkamer teruggekeer nie. Die bloed wat in die hoek van die stort gevind is, stem ooreen met dié van Henri, Teresa en Rudi.

Die saak duur voort.

Aanklagte teen Henri

Henri staan tereg op drie aanklagte van moord – op sy ouers, Martin en Teresa van Breda, asook sy ouer broer, Rudi (22) – en poging tot moord op sy jonger suster, Marli, op die luukse landgoed De Zalze buite Stellenbosch. Hy ontken skuld op al klagte.