Adv. Matthys Combrink het tydens kruisondervraging van die polisie se forensiese deskundige, kapt. Celeste Brown, oor die merke uitgevra. Hy het gesê dat die boonste gedeelte van die byl wel aan die bokant van een van die merke raak, maar dat daar ’n ruimte tussen die onderkant van die byl se lem en die res van die merk is.

Brown het van hom verskil en gesê dit pas wel aan die onderkant ook in.

Na aanleiding van Brown se getuienis dat een uit vier kanse bestaan dat die byl op die lemkant kan land as dit gegooi is, het Combrink gesê dat Kobus Steyl, ’n deskundige vir die verdediging, die byl 1,5 m ver gegooi het. Dit het nie getol nie, maar die oppervlakte reg van voor getref.

Op regter Siraj Desai se vraag of daar moontlik ’n tweede byl in die aanval ter sprake was, het Combrink gesê hy weet nie. Dit is ’n moontlikheid.

Marli se destydse kêrel en ’n goeie vriend van Henri, James Reade-Jahn, het tydens sy getuienis gesê hy onthou ’n byl met ’n swart kop. 

Combrink sê dit was net die huiswerker, Precious Munyongani, wat die byl wat as bewysstuk ingedien is, as die byl in die huis bevestig het.

Desai het op 10 Mei die byl van naderby bekyk. Die kop van die byl is nie swart nie, maar donkergroen.

Hy het die kruisverhoor afgesluit.

Adv. Susan Galloway het gevra of Brown gevra is om die byl te vergelyk met die skade wat aangerig is as ’n moontlike instrument wat dit kon veroorsaak het. Brown het dit bevestig.

Desai het aangedui dat ao. Nel gedagvaar sal word om getuienis te lewer vanweë die diskrepansie in bewysstukke wat Brown ontvang het om te ontleed.

Die saak word na 7 Augustus uitgestel met die verwagting dat dit teen 28 Augustus afgehandel sal wees.