[caption id="attachment_160528" align="alignnone" width="600"]xx Jan-Lion en sy pa, Lion de Necker. Foto's: Facebook[/caption]

Jan-Lion de Necker (21) is vroeër vandeesweek in die landdroshof op Belfast op borgtog van R1 000 vrygelaat. Dit volg ná die moord op sy pa, Lion de Necker (47), het brig. Leonard Hlati, polisiewoordvoerder in Mpumalanga bevestig.

Lion se gedenkdiens vind môreoggend op dié dorp plaas.

Volgens Hlati het Jan-Lion en sy jonger broer Vrydagaand van ’n skoolkonsert teruggekeer. Dié 15-jarige jonger broer is nog op skool.

“Die bewering is dat die ma en pa die oggend omstreeks drieuur stry gekry het,” sê Leonard.

“Hulle beweer die pa het ’n mes in sy hand gehad en die ouer seun met die mes gesny. Die ouer seun het na bewering toe ’n vuurwapen gaan haal en sy pa geskiet.

“Die seun is dieselfde oggend in hegtenis geneem. Hy het sy volle samewerking aan die polisie gegee.”

Volgens die Middelburg Observer het Catryn de Necker, Lion se vrou, op Facebook geskryf haar man het met posttraumatiese stressteuring gesukkel nadat hy 20 jaar lank ’n polisieman was.

Hy was ook baie depressief nadat sy oudste seun, Pierre (24), in Julie verlede jaar dood is toe ’n groep mense op Belfast hom aangeval het. Pierre is met stokke en bottels geslaan en geskop nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n motor gesteel het.

Lion wou Catryn en haar jonger seun glo dié aand met messe aanval, berig die Middelburg Observer.

Volgens Catryn het Jan-Lion tussenbeide getree en sy pa weggestamp. Hy het in die proses ’n snywond aan sy arm opgedoen. Jan-Lion het gehardloop om ’n wapen te gaan haal wat hy glo wou gebruik om sy pa af te skrik.

Die Middelburg Observer skryf Jan-Lion het sy pa glo herhaaldelik gewaarsku om nie weer sy ma en boetie seer te maak nie en hom gevra om die messe neer te sit. Lion het glo alle beheer verloor en op sy vrou en twee seuns afgestorm. Hy het gedreig om hulle dood te maak. ’n Skoot het toe afgegaan en Lion is noodlottig gewond.

Jan-Lion moet op 23 Maart weer in die landdroshof op Belfast verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek, sê Leonard.