David en Victoria Beckham beplan nie om Londen te verlaat nie.

Die bekende egpaar het verlede jaar nadat David weg is by die sokkerspan Los Angeles Galaxy saam met hul kinders, Brooklyn (14), Romeo (11), Cruz (8) en Harper (2), na Londen teruggetrek. Ten spyte van gissings dat hulle wil terugtrek Amerika toe sê Victoria hulle woon lekker in die Britse hoofstad.

Victoria, wie se 2014-lente/herfs-modereeks tans tydens die New Yorkse modeweek opgehemel word, het aan MailOnline gesê, hulle is bly om terug te wees in Londen. “Die kinders is in wonderlike skole, hulle het baie vriende en ons familie woon in Londen. Ons is baie trots om Brits te wees.

“Ek is ook mal oor LA. Dis lekker om terug te gaan wanneer die kinders skoolvakansie het. Dis wonderlik om in New York te wees, daar is ’n wonderlike energie. Maar Londen is ons tuiste; ons beplan nie om te trek nie. Dis waar ons bly.”

Victoria (39) en David (38) was onlangs vir die somervakansie in hul huis in Los Angeles. Hoewel hulle ware stralerjakkers is, sê die modekenner haar eie land inspireer haar. Die gewese Spice Girl is in Harlow, Essex, in die suidooste van Engeland gebore.

Sy het gesê: “Ek reis baie; daarom beïnvloed verskillende plekke my. Maar ek geniet Londen. Dis ’n ongelooflike stad.”