David Beckham wil ’n reeks pasteitjie-en-kapokaartappel-kafees open.

Die 38-jarige afgetrede sokkerster – wat glo belê het in Gordon Ramsay se jongste onderneming, ’n eetplek met ’n Mediterreense tema wat op 16 September in Londen oopmaak – wil graag ’n “leemte in die mark” benut en werk saam met Gordon in die hoop om ’n franchise eetplekke te open wat sy “gunsteling-kos” sal verkoop.

’n Vriend van die bekende sokker-ikoon het aan die koerant The Sun gesê: “In plaas daarvan om by Gordon se nuwe restaurant betrokke te raak, wil David ’n pasteitjie-en-kapokaartappel-kafee in Londen open as die begin van ’n wêreldwye ketting.

“David het net by Gordon se nuwe restaurant rondgekyk en dis verkeerd geïnterpreteer dat hy daarin belê. Daar was vroeër ’n beleggingsopsie vir David, maar hy wou by iets hou wat sy eie gunsteling-kos sal verkoop.

“David en Gordon stem saam dat daar ’n leemte in die mark is en hulle wil dit na die res van die wêreld uitbrei.”

In 2010 het David en Gordon die naam PM – wat staan vir Pie & Mash – onder hul gesamentlike voorletters DBGR by die kantoor vir intellektuele goedere geregistreer.