Die afgetrede sokkerster was destyds bang hy het sy kanse om met Victoria uit te gaan verspeel omdat hy aanvanklik te skaam was om met haar te praat.

David het verklap: “Ek het in Londen vir Manchester United teen Chelsea gespeel en sy het saam met my bestuurder ’n draai gemaak. Ek was baie skaam en het myself net voorgestel en toe gewaai.

“Ek was teleurgesteld dat ek nie ’n bietjie meer met haar gesels het nie, maar sy was die volgende week terug vir nog ’n wedstryd. Dit was my kans en ek het haar nommer gekry. Victoria is nog net so mooi. Ek weet nie of dit met my ook die geval is nie!”

Die twee is in Julie 1999 getroud. David het ook vertel die beste oomblik van sy lewe was toe hy die eerste keer uitvind Victoria is swanger. Hulle het nou drie seuns, Brooklyn (14), Romeo (10) en Cruz (8), en ’n dogter, Harper (22 maande).

“Om uit te vind jy gaan pa word, is die ongelooflikste gevoel wat jy kan ervaar,” het hy aan die Franse nuuskanaal TF1 gesê. “Niks is beter as dit nie, om iets te sien wat julle as ’n paartjie geskep het.”

David het dié spesiale oomblik al ’n paar keer ervaar, maar erken dit was anders toe hy uitvind Victoria verwag ’n meisie. Hy is so beskermend oor Harper dat hy geskerts het sy gaan soos die prinses Raponsie in die strokiesverhaal in ’n toring aangehou word sodat sy nie met ouens kan uitgaan nie.

“Beslis nie. Sy mag nie uitgaan nie. Sy gaan soos Raponsie in haar toring wees! Dis ’n heel ander storie om ’n dogter te hê. Dis nie te sê ek is liewer vir my dogter nie – die seuns is onafhanklik en doen hul eie ding. ’n Dogtertjie soek haar pa, sy wil hê haar broers moet haar raaksien en haar ma moet haar versorg. Dis ’n heel ander storie.”