Dié oudsokkerster en sy vrou, die modeontwerper Victoria, is die ouers van Brooklyn (16), Romeo (13), die 10-jarige Cruz en die vierjarige Harper.

Hy het al toegegee dat hy baie toegeefliker is wat die dissiplinering van sy dogtertjie betref, en dit gaan ongetwyfeld vir hom swaar wees wanneer sy in seuns begin belangstel.

"O ja, dit gaan beslis anders wees,” het die wêreld se sexyste man laggend aan ET Online gesê.

Dit was nie onmiddellik duidelik of Beckham gepraat het van sy onvermoë om vir Harper nee te sê wat sake gaan bemoeilik nie, en of hy bedoel het hy sal nie daarvan hou dat sy met seuns uitgaan nie.

Daar is gelukkig nog baie tyd oor voor die ster se kleuter aan romanse sal begin dink, maar sy oudste seun het reeds daardie punt bereik.

Brooklyn is in die verlede reeds verbind aan die aktrise Chloë Grace Moretz en nou word bespiegel dat hy betrokke is by die Franse aktrise en model Sonia Ben Ammar.

“Dis duidelik dat Brooklyn beslis daardie ouderdom bereik het,” het Beckham toegegee. “Jy weet, hy is 16; dus is hy beslis op daardie ouderdom. Ons is sterk ouers en streng ouers, maar ons is ook maar soos die meeste ouers. Ons is lief vir ons kinders en ons soek die beste vir hulle; dus sal ons maar moet kyk wat gebeur.”

Die ster het ook die verlies van David Bowie aangeroer, wat Sondag ná 'n stryd teen kanker oorlede is.

Sy dood is Maandag bevestig nadat sy siekte geheim gehou is tot en met sy dood. Bewonderaars wêreldwyd het blomme neergelê en ter ere van hom in die strate saam met sterre, soos Madonna, Boy George, sir Paul McCartney en sir Mick Jagger gesing, wat almal hulde aan die “Thin White Duke” gebring het.

"Ek het David ’n hele paar keer teëgekom en hy is kennelik so 'n groot bron van inspirasie,” het Beckham gesê.

“Hy het met die jare so ’n groot invloed uitgeoefen op so baie mense, miljoene mense. Sy musiek sal vir altyd voortleef, want al die musiek wat hy gemaak het, was so klassiek.”

© Cover Media