Die afgetrede Engelse sokkerster (39) en sy 15-jarige seun, Brooklyn, was buite die sokkerklub Arsenal se oefengrond in Hertfordshire, noord van Londen, in ’n botsing betrokke, berig die Britse koerant The Telegraph. Die lugsakke in David se Audi RS6 het na bewering ontplooi toe die voertuig met ’n Mitsubishi Colt bots. Daar is teenstrydige berigte oor of enigeen beseer is.
'David en Brooklyn het groot geskrik maar is oukei.'

“David en Brooklyn is nie beseer nie en soos ek dit verstaan is albei passasiers in die ander voertuig ongedeerd,” het ’n bron aan die koerant gesê. “David en Brooklyn het groot geskrik maar is oukei.”

Later is daar berig die bestuurder van die ander motor is hospitaal toe geneem.

Die polisie wou nie bevestig of David betrokke was nie, sê BBC News, maar hulle het aangedui die bestuurder van die Audi is ook “liggies beseer”.

Brooklyn se spanmaat Archie Davies het dit blykbaar bevestig toe hy iets soortgelyks twiet, volgens The Telegraph.

“Ek het David Beckham pas gesien en dit wil voorkom of hy in ’n motorongeluk was en sy skouer beseer het. Steeds geskok omdat ek hom gesien het,” het hy geskryf.

Maar die familie se woordvoerders het nog geen woord gerep nie.

Brooklyn Beckham speel vir Arsenal se onder-16-span.

Die ongeluk het kort ná ’n wedstryd teen Brighton plaasgevind.

Saam het David en sy vrou, die ontwerper en gewese popster Victoria vier kinders: Brooklyn, Romeo (12), Cruz (9) en Harper (3).

© Cover Media