David Beckham sê sy dogter Harper praat soos ’n Amerikaner.

Die afgetrede sokkerspeler en sy vrou, Victoria Beckham, het hard daaraan gewerk om hul kinders, Brooklyn (14), Romeo (11), Cruz (8) en Harper (2), goeie maniere te leer. Hy vertel sy jongste gebruik Amerikaanse segswyses vanweë die invloed van hul ses jaar lange verblyf in Los Angeles.

Hy het Sondag by die opening van Belstaff, ’n Londense baadjiewinkel, aan die Huffington Post UK gesê: “Selfs my tweejarige dogter sê dankie en asseblief. Omdat sy in Amerika gewoon het sê sy ook: ‘You’re welcome’.”

David en Victoria is glo sowat R2 biljoen werd. Tog sê hy hul bevoorregte kinders moet hard werk vir hul luukshede. Die egpaar leer hul kinders hoe belangrik toewyding, harde werk en deursettingsvermoë is.

David (38) het gesê hul kinders is hul grootste prioriteit. Hy en Victoria leer hulle hoe belangrik dit is om hard te werk. “Dis iets wat my vrou en ek nog altyd gedoen het, voor ons kinders gehad het en noudat ons vier het.”