David Beckham het sy tweejarige dogter, Harper, ’n hartskildery van R10,5 miljoen present gegee.

Die werk, getiteld Daddy’s Girl, is ’n skepping van die kunstenaar Damien Hirst, ’n goeie vriend van die uitgetrede sokkerster. Die kunswerk gaan opgehang word in Harper se kamer in die gesin se nuwe herehuis van sowat R705 miljoen in Notting Hill, Wes-Londen.

’n Bron het aan The Sun on Sunday onthul: “Die verhuisingsonderneming was ekstra versigtig met die Damien Hirst-skildery.

“Dit was verpak, maar niemand wou dit laat val of ’n gat in so ’n kosbare kunswerk steek nie.

“Harper is ’n gelukkige meisie om so ’n duur skildery teen haar kamermuur te hê.”

David en sy vrou, Victoria, het die kunswerk omstreeks hul dogter se eerste verjaardag laat skilder en glo “tienduisende” daarvoor opgedok. ’n Soortgelyke skildery het in 2011 sowat R10,5 miljoen op ’n veiling gehaal.

Toe hy Daddy’s Girl destyds koop, het die ster gesê: “(Dis) ’n kunswerk wat ek spesiaal deur ’n vriend laat maak het. Die naam van die kunstenaar? Damien Hirst.”