Aanhangers wêreldwyd kwyl behoorlik oor dié pragtige sportman en hy pryk dikwels boaan lysies van die aantreklikste manne, maar dis die eerste keer dat People dié gesogte titel aan hom toeken.

“Dis ’n groot eer,” het David aan die tydskrif gesê, “en ek is baie ingenome om dit te aanvaar.” Maar ten spyte van sy mooi voorkoms en gespierde lyf en die nuwe titel agter sy naam, sê David: “Ek voel nooit ek is ’n aantreklike, sexy mens nie. Ek bedoel, ek hou daarvan om mooi aan te trek en mooi pakke te dra en goed te lyk en voel, maar ek dink nooit op daardie manier aan myself nie.” David (40) neem die titel oor by Chris Hemsworth, verlede jaar se wenner. Adam Levine en Channing Tatum het voorheen met die titel weggestap. In 1989 was die wenner Sean Connery en in 1991 Patrick Swayze.

“Ek het gedink my rakleeftyd is verby"

David het met ’n skaam glimlag reageer op ’n vraag oor hoe vroulief Victoria (41) op die nuus gereageer het. “Ek sou hoop dat sy in elke geval altyd so oor my voel!” het hy laggend laat hoor. “Maar sy het ‘baie geluk’ gesê.”

Die Britse sokkerster pryk gereeld op advertensieborde in sy onderklere vir Armani en H&M. Hy’s ook ’n gereelde sosialemediagebruiker en het die goeie nuus Woensdag op Facebook en Instagram gedeel.

“Ek het gedink my rakleeftyd is verby, maar dankie aan People vir die titel en kompliment! Ek voel altyd ’n bietjie skaam wanneer ek sulke eerbewyse kry, maar dit sal my ma baie gelukkig maak. Die kinders gaan hiervoor lag, want hulle sien hoe pappa soggens lyk!”

© Cover Media