Nog ’n oorsese musiekgroep kom Suid-Afrika toe! Big Concerts het vandag aangekondig die Dave Matthews Band gaan op 30 November by die Grand Arena in GrandWest, Kaapstad, optree en op 3 Desember by die Coca-Cola Dome in Johannesburg.

Al is die voorsanger, Dave Matthews (46), in Johannesburg gebore en het hy by die St. Stithians College skoolgegaan voor hy in 1986 New York toe getrek het, het hy nog nooit in Suid-Afrika opgetree nie. Die groep, wat in die VSA gebaseer is, het roem verwerf met treffers soos What Would You Say en American Baby. Hulle het al 37 miljoen CD’s en DVD’s verkoop en meer as 18 miljoen konsertkaartjies.

Die Dave Matthews Band gaan die verhoog deel met die plaaslike musieklegende Vusi Mahlasela. Kaartjies is beskikbaar by www.bigconcerts.co.za of by Computicket.

Deur KIRSTIN BUICK