Hertogin Catherine van Brittanje se baba word op 13 Julie verwag.

Die hertogin en haar man, prins William, het in Desember bevestig hulle verwag hul eerste kind nadat sy met ernstige oggendnaarheid in die hospitaal opgeneem is. Maar woordvoerders van Buckinghampaleis het tot dusver nog net bekendgemaak die baba sal iewers in Julie gebore word.

Maar iemand het blykbaar gehoor hoe vriende van die egpaar – dalk beter bekend as Will en Kate – praat oor die presiese datum waarop die baba verwag word.

’n Bron het vir die koerant Mail on Sunday gesê: “Van Kate en William se beste pelle is onlangs hoor praat by ’n braai wat ’n familievriend van die koninklikes gehou het.

“Hulle het daaroor gepraat dat Kate se baba na verwagting op 13 Julie gebore sal word. Almal was baie opgewonde.”

Die dag val in die middel van die Kroningsfees, ’n vier dae lange viering van William se ouma koningin Elizabeth se kroning 60 jaar gelede. Dit beteken die egpaar sal waarskynlik die viering misloop wat van 11 tot 14 Julie sal duur.

Intussen het die sopraan Laura Wright, wat in die tuine van Buckingham-paleis sal optree, het geskerts sy is bekommerd dat haar vertoning dalk Catherine se geboortepyne kan laat begin.

Sy het gesê: “Ek moet maar nie te veel hoë note sing nie . . . netnou laat my singery die bevalling begin.”

’n Woordvoerder van die koninklikes het geweier om op die berig kommentaar te lewer en net gesê: “Ons het net gesê die hertogin se verwagte datum is in Julie. Enigiets verder sal net bespiegeling wees.”