Outisme is kleintyd by Daryl Hannah gediagnoseer.

Die ster van Blade Runner het verklap sy sukkel met skaamheid omdat sy aan outisme ly. Dié ingewikkelde steuring word gekenmerk deur verminderde sosiale interaksie en kommunikasie, asook beperkende en herhalende gedrag.

Daryl (52) het aan People vertel: “Ek was nog nooit gemaklik om die middelpunt van belangstelling te wees nie. Dit jaag my op hol.”

Daryl, wat vroeër met die sanger Jackson Browne en wyle John F. Kennedy jr. uitgegaan het, was doodbang om rolprentvervaardigers van haar probleem te vertel. Sy het ook geweier om onderhoude toe te staan om haar rolprente te bemark.

Sy het voorts gesê: “Ek het so baie tyd gemors om bang, selfbewus en onseker te wees. Die lewe is te kort om jou oor onbenullighede te bekommer.”

Die blonde skoonheid het vorentoe en agtertoe gewieg om haar skaamheid te hanteer. Sy sê sy het nou geleer hoe om sekere aspekte van haar siekte baas te raak.

Sy het vertel: “Ek is nou ’n volwassene. Ek het ’n paar dinge geleer wat my lewe baie makliker sou gemaak het as ek 20 jaar gelede daarvan geweet het.”

Die aktrise van Kill Bill woon in Los Angeles saam met haar kêrel van drie jaar. Sy is in Februarie voor die Withuis in Washington in hegtenis geneem terwyl sy teen die Keystone XL-oliepypleiding betoog het. Sy is ’n paar uur later vrygelaat.

Sy is verlede jaar ook vir kriminele oortreding in hegtenis geneem nadat sy en ’n grondbesitter voor masjinerie gaan staan het om teen die bou van die oliepypleiding te betoog. Sy is in die Wood County-gevangenis in Texas aangehou.