HUL luukse Bosveld-huis was eens hul trots, maar dit was dóérie tyd. Die buite-onthaalarea en die kroeg op die boonste verdieping van die weelderige blyplek is nie meer die eerste ding wat die radio- en TV-aanbieder Darren Scott en sy vrou, Sarah-Kate, vir besoekers wys nie – deesdae het hulle net oë vir hul eersteling.

Klein Mark is op 17 November gebore en hy het hul lewe totaal oorgeneem, sê die paartjie. Dis die lekkerste ding wat hulle nog getref het, en hulle terg maar goedig oor hoe hulle deesdae liewer is vir hom as vir mekaar.

Hul huis in Hartbeespoort het baie verander sedert ons laas daar ingeloer het nadat Darren so mooi gewig verloor het (Lig in die broek . . ., 5 November 2009). Bottels en steriliseermiddels staan nou die kombuis vol, en die gastekamer is in ’n babakamer vir hul seun omskep.

Die babakamer spog met ’n indrukwekkende versameling skoene: Mark het reeds meer as hy, sê Darren (46). Oral is sagte speelgoed en Sarah-Kate (27) het ’n stapel babapakkies volgens grootte in ’n klerekas gerangskik.

Al ding wat kort, is ’n bababed, maar hulle is nie haastig om so iets aan te skaf nie. Mark slaap in hul bed op ’n hoefystervormige kussing wat keer dat hy rondrol of sy nek seermaak, verduidelik Sarah-Kate.

‘‘Dit word medeslaap genoem en ek het besluit om dit te doen nadat ek in ’n boek daaroor gelees het. Hy is 24 uur van die dag by ons. Ek los hom nooit, ooit nie. Hulle sê dis ’n goeie tyd om ’n hegte band met die baba te vorm. Wanneer hy gereed is om in sy eie kamer te slaap, sal hy ons laat weet.’’

Die slaapreëling is nie iets waaroor Darren en Sarah-Kate saamstem nie: Hy meen die kleinding moet van die begin af in sy eie wiegie in sy eie kamer slaap.

Lees die volledige artikel in sien meer foto’s in die Huisgenoot van 20 Januarie 2011