Die ooievaar was ‘n volle week laat met sy aflewering, ,maar klein Mark Scott, eersteling van die Jacaranda 94.2 Just Plain Breakfast aanbieder Darren Scott en sy vrou Sarah-Kate het uiteindelik sy opwagting gemaak.

Die knapie is gisteroggend om 09:37 in die Sandton Medi Clinic in Johannesburg met die hulp van ‘n keisersnit gebore en het ‘n gesonde 3.13 kilogram geweeg.

“Om daardie klein mensie, wat ‘n deel van jou is, te sien gebore word is onbeskryflik. Mark het al klaar ‘n persoonlikheid ontwikkel en ek kan net die heeltyd vir hom staar,” vertel Darren.

Die paartjie is in Desember verlede jaar getroud.

“Hy is hoogs intelligent en baie aantreklik, en dan het hy darem ‘n paar van my eienskappe ook. Hopelik sal Just Plain Mark teen Januarie of Februarie volgende jaar reg te wees om vir my in te staan by die Just Plain Breakfast program  …. dis nou te sê as sy verpligtinge by die Amerikaanse PGA gholftoer hom nie te besig hou nie,” lag die trotse pa.

Klein Mark en mamma Sarah-Kate sal nog ‘n paar dae in die hospitaal aansterk voor hulle huis toe gaan.