[caption id="attachment_134132" align="alignnone" width="600"]Fotosamestelling: Martin de Kock, Facebook en WhatsApp Fotosamestelling: Martin de Kock, Facebook en WhatsApp[/caption]

Hy het vandag vir die eerste keer verskyn weens ’n siviele eis wat sy gewese vriend en sakevennoot, Anthony Duke, teen hom aanhangig gemaak het weens R1,125 miljoen wat hy Anthony skuld.

Maar nou blyk dit die verhouding het nog verder versuur, want Darren braak gal oor Anthony in sosiale media en stuur selfs dreigende foonboodskappe aan hom.

“Anthony Duke . . . Jy het die afgelope vyf jaar mense probeer oorreed dat ons vriende is.

“Net omdat ek jou toegelaat het om in my huis te bly omdat niemand anders jou dwelmgewoontes kon hanteer nie, maak nie van jou ’n vriend nie.

Lees ook: ’n Tydlyn van hoogte- en laagtepunte vir Darren Scott

“En toe jy my vrou probeer betas het toe ek nie gekyk het nie, dit moet reeds genoeg van ’n rede wees waarom jy nie meer welkom is in my huis nie,” het Darren op sy Facebook-blad geskryf.

“Jy is ’n irrelevante muskiet wat ’n behoorlike klap nodig het,” het hy voortgetier.

Geniv Wulz, Anthony se regsverteenwoordiger, sê Anthony sal nooit sulke goed doen nie. “Ek kan myself nie indink dat my kliënt in staat is om so iets te doen nie,” sê sy.

Volgens Geniv is Anthony erg geskok oor die Facebook-inskrywing waarin Darren hom probeer swartsmeer. Geniv sê Anthony ontken alle bewerings wat Darren teen hom maak.

Geniv het aan Huisgenoot teksboodskappe gewys wat Darren op dieselfde dag as die Facebook-inskrywing aan hom gestuur het.

“Sh*t just got real,” skryf hy in een van die teksboodskappe.

“Jy moet oor jou skouer loer, jou f*kken muishond.

“Ek kom vir jou,” skryf hy dreigend.

Geniv sê haar kliënt voel verneder deur die teksboodskappe wat hy van Darren ontvang het.

Toe Huisgenoot Darren by die hof nader vir kommentaar, het hy net gesê: “Lees my lippe; geen kommentaar!”

Anthony het nie die hofverrigtinge bygewoon nie omdat Geniv hom aangeraai het om nie die reiskoste van die Kaap na Johannesburg te betaal nie, want sy het geweet die saak gaan uitgestel word.

Darren moes die nodige dokumente aan die hof verskaf voor die verrigtinge kan voortgaan. Darren moet op 16 September weer in die hof verskyn. Hy het aangedui hy gaan homself in die hof verteenwoordig.

Anthony het op 11 Augustus sy hart oopgemaak teenoor Huisgenoot en by sy huis op Hermanus vertel van die bitter stryd om sy geld terug te kry wat hy in Darren se mediamaatskappy, Just Plain Media, belê het.

Darren se mediamaatskappy het in duie gestort weens ’n mediastorm nadat hy ’n swart kollega die K-woord toegesnou het.

Darren het ná talle hofstukke en briewe ’n skikkingsooreenkoms geteken om die R1,125 miljoen plus ’n ekstra R175 000 vir regskoste aan Anthony terug te betaal.

Anthony het die eerste R100 000 in Februarie 2016 ontvang, maar sedertdien nie weer ’n sent nie.