HULLE lyk soos die volmaakte gesin: Die toegewyde man, pragtige vrou en skattige vier maande oue babaseuntjie. Maar dié gelukkige prentjie verbloem maande se pyn en hartseer wat een van Suid-Afrika se bekendste radio- en TV-persoonlikhede byna sy huwelik gekos het. Agter Darren Scott se glimlag skuil trouens ’n stryd teen depressie wat gedreig het om sy ganse lewe te laat ontspoor.

Weke gelede nog het Darren meer van sy radio-kollegas en kliënte as van sy gesin gesien, en daar is selfs gefluister dat hy uit sy huis in Hartbeespoort getrek het en ontrou was aan sy vrou, Sarah-Kate.

Daaroor wil Darren nie eens praat nie. “Ek hoor al jare lank allerhande belaglike gerugte oor myself,” is al wat hy sê.

Hy wil wel oor sy huwelik gesels en hoekom dit amper in die skeihof beland het. Sy lewe was buite beheer, erken hy, en hy het al sy tyd aan werk, sy moordende fiksheidsroetine en sy vriende afgestaan.

Hy het homself gedruk tot hy uitgeput was, en geweier om sy persoonlike kwessies aan te spreek. Uiteindelik het ’n sielkundige hom as depressief gediagnoseer, en gewaarsku dat hy op die rand van uitbranding is.

“Ek is heeltemal onkant gevang,” erken Darren (47). “Ek het na die dokter gekyk asof hy met iemand anders praat. Dit het baie onwerklik gevoel. Ek het gesê, nee, ek dink nie so nie. Ek voel nie depressief nie.”

Tog was al die simptome daar – moegheid, prikkelbaarheid, slaaploosheid en ’n gebrek aan energie.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 14 April 2011