Dit gaan “orraait onder die omstandighede”, vertel die dapper Niandri (Nina) van Rooyen. Die tsoenami van ondersteuning hou haar staande sedert haar man, Jason Sanders, op 7 November aan kanker van die brein en ruggraat oorlede is.

Hulle het op 27 Oktober in die hospitaal getrou.

“Ons is so dankbaar dat mense in hierdie tyd aan ons dink en steeds bid en boodskappe van medelye stuur . . . Ons kon nie wag om in die kerk te trou nie,” sê Nina.

Daar was Vrydag 11 November digby duisend mense by sy gedenkdiens in die Hillsong Church by Century City, Kaapstad. Almal het blou gedra, sy gunstelingkleur. Dit was net ’n bewys van hoeveel mense hy geraak het.

Op Maandag 21 November het ’n klomp mense opgedaag om die see van Bloubergstrand in te vaar op branderplanke, omdat hy so lief was om die golwe daar aan te durf.

Daar is nou selfs ’n hutsnaam, #blueforjay (sy bynaam was Jay) om mense se steun te wys en Nina te help geld insamel vir die mediese rekeninge, ander rekeninge en die huis wat hulle saam gekoop het. Jason het toe lewensversekering uitgeneem, maar dit is gekanselleer weens die kanker wat kort daarna by hom gediagnoseer is.

Voor hy siek geword het, was die plan om op Nina se 27ste verjaardag te trou – die dag nadat Jason in die ouderdom van 32 in die Mediclinic Durbanville naby Kaapstad dood is.

“My geliefde man, ’n broer, seun, beste vriend vir baie, is vandag, 7 November, om 16:25 vreedsaam oorlede,” het sy die tyding op Facebook aangekondig.

“Familie en vriende het van naby en ver gekom om Jason te ondersteun in sy stryd teen hierdie hartverskeurende siekte. Dit is duidelik hoe baie lewens hy geraak het met sy borrelende persoonlikheid en sorgsame aard,” skryf sy verder.

Haar ma, Nicolene Haley, het uit Australië gekom om hulle te ondersteun en is nou een van Nina se steunpilare in hierdie tyd. Die familie gaan almal bymekaar wees vir Kersfees.

Nina en Jason was drie jaar saam. Hulle het in Oktober verlede jaar vir hulle ’n huis gekoop. “Ons het so uitgesien na ons lewe saam,” vertel Nina, wat in Table View woon.

Sy en Jason het mekaar by die werk ontmoet. Hulle het vir dieselfde telekommunikasiefirma gewerk. Sy het later bedank om na hom om te sien en by hom te wees soveel sy kan.

Die aggressiewe en terminale vorm van die breinkanker glioblastoma multiforme is in Maart by hom gediagnoseer. Dit was reeds in stadium 4. ’n Noodoperasie is gedoen om die gewas te verwyder en hy het bestraling en chemoterapie ondergaan.

“Die dokters het hom toe net ’n paar maande gegee om te lewe,” onthou Nina. “Hulle het gesê dis die mees aggressiewe en snelgroeiende gewas wat hulle nog ontdek het. Maar ’n MRI-skandering in Julie het getoon die gewas het gekrimp en hy is aangesê hy hoef eers in Oktober terug te kom.

“Dinge het begin beter lyk en ons het op 1 Augustus verloof geraak.” Hulle sou in die NG-kerk Bloubergstrand trou. Alles was gereël.

Jason het begin kla van ondraaglike rugpyn, daaglikse nekspasmas en braking. Toe die skandering verlede maand gedoen is, het dit getoon die kanker het na sy ruggraat versprei. Nog ’n reeks bestralings, chemoterapie en ’n operasie sou vir hom voorgelê het, maar toe sterf hy voortydig gister.

“Jason het my geleer om optimisties te bly. Mense se gebede het ons gedra. Dankie daarvoor.”

Sy mediese fond was uitgeput. “Ek wag nog vir die rekeninge om alles op te daag om te sien hoeveel ons skuld,” vertel sy. “Ons is binne gemeenskap van goedere getroud. Ek weet nie wat gaan gebeur en hoe dit gaan werk nie . . . Ek weet net ek sal in Januarie weer moet begin werk, drie verskillende werke om al die skuld te dek.”

Weldoeners skenk steeds geld in ’n internet-trustfonds om haar te help.