’n Dapper vrou het haar man se lewe gered nadat sy hom met geweld uit ’n krokodil se kake gekry het op die oewer van die Okavangorivier in Namibië, berig New Era.

Elizabeth Shintango het vertel hoe sy gesukkel het om haar man, Mathew Kativa, uit die reptiel se greep te kry terwyl dit hom ál dieper die rivier ingetrek het.

Lees ook: ‘Die vonds wat die wêreld verstom’: Nuwe inligting oor seevarende mummie bekend

Sy sê sy het gedink sy het die stryd en haar man verloor toe sy sy hand van onder die water sien opkom. Die krokodil het nog ’n laaste keer na haar man probeer gryp nadat sy hom na veiligheid getrek het, maar toe in die rivier verdwyn.

Daar is met Mathew na ’n nabye hospitaal gejaag waar hy mediese hulp vir sy regterhand, wat afgebyt is, en verskeie ander beserings ontvang het.

Hy is stabiel en kry nog behandeling.

Die voorval kom net ’n maand nadat ’n 18-jarige meisie ’n krokodil-aanval langs dieselfde rivier oorleef het. Volgens All Africa het ’n groep vriende die meisie uit die krokodil se kake gered. Hoewel haar been in die aanval beseer is, was sy gelukkig om dit te oorleef.

Lees ook: 90-jarige inspireer talle met haar verrykende lewensuitkyk, al is sy hoe siek

New Era berig daar was al heelwat krokodil-aanvalle by die rivier, waarvan een van die jongste dodelike aanvalle ’n skoolmeisie was wat in die gebied geswem het. Die gemeenskap van Kavango-Oos was in skok toe die meisie se verminkte lyk in Desember in water gevind is.

Bewoners van die gebiede na aan die rivier, raak ál meer vatbaar die afgelope ruk vir krokodil-aanvalle omdat talle op die Okavango staatmaak vir hul water.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Zephany Nurse se grootmaak-ma het gedink ‘haar mamma wil haar nie hê nie’

Grootmaak-ma getuig in hof: So het ek Zephany gekry

‘Liefdesdriehoek’ eindig tragies

Verbygaande verpleegster red man ná weerlig hom tref