’n Sewejarige seun het hulp gekry nadat hy Woensdag uit ’n vinnig bewegende trein in die Shongweni-vallei naby Durban geval het.

Die seun was vermoedelik op pad skool toe in die trein wat van die Devilwood-stasie vertrek het toe pendelaars verhoed dat die deur toegaan.

Chris Botha van Netcare 911 het in ’n verklaring gesê die seun het blykbaar in die deuropening gestaan toe die trein by ’n tonnel ingaan. Dit het veroorsaak dat die kind uit die trein gesuig is en sy kop teen die beton gekap het.

“Met ernstige beserings aan sy kop het die kind dapper daarin geslaag om die kop met sy skooldas aanmekaar te bind,” sê Botha.

Die krities beseerde kind het uit die tonnel gekruip en langs die spore gaan lê. ’n Groep veldmotorfietsryers het hom daar gekry en die nooddienste in kennis gestel.

Paramedici is na die toneel gestuur en het die seun gestabiliseer voor hulle hom per helikopter na ’n hospitaal in Durban vervoer het.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com

Wat broei deesdae tussen Ben en Jen?

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?