Trinity is net 11 jaar oud, maar sy kan reeds een item op haar wenslysie afmerk: Sy het al haar lyf model gehou by van dié bekende Indies-Amerikaanse modeontwerper se vertonings.

Rabdomiosarkoom is in Junie verlede jaar by Trinity gediagnoseer. Die oorsaak van dié ongewone soort kanker is onbekend, en dit kan in amper enige deel van die liggaam ontstaan. Dit het Trinity egter nie gekeer om haar drome na te streef nie.

Van kleins af het sy haar in spoggerige klere en hoëhakskoene geleef, vertel haar ma, Kimberly Rasmus. “Sy was altyd in my grimeersakkie doenig,” sê Kimberly.

Dit was dus geen verrassing toe Trinity aankondig sy wil op die loopplank pryk nie. “Selfs toe sy weens chemoterapie al haar hare verloor, wou sy nie sommer enige ou hoed dra nie. Dit moes pas by haar uitrusting,” vertel haar ma.

In Desember verlede jaar was haar chemoterapie en bestraling voltooi. Net ’n maand later het ’n skandering verskeie aggressiewe gewasse gewys wat die behandeling weerstaan het.

Lees ook: Man se liefdestaak om sy vrou weer te sien glimlag

Dis toe dat Kimberly die organisasie Make-a-Wish kontak. Dié organisasie help om uitstappies vir kinders met lewensbedreigende siektes te reël.

“Ek wil aan ’n modeparade deelneem. ’n Regte een, met regte modelle soos Gigi Hadid,” het Trinity laat hoor.

“Ek wil hê iemand moet vir my ’n uitrusting ontwerp en dit moet iewers soos New York of Parys wees.”

En geen droom is ooit te groot vir die Make-a-Wish-span nie.

Binne ’n week het die gesin gehoor Trinity gaan New York toe vir ’n modeweekbelewenis op die rooi tapyt en gaan op die loopplank verskyn in klere deur Naeem, wat al sterre soos die Glee-aktrise Naya Rivera uitgerus het.

“Hierdie klein, brose meisie het ingestap – so pragtig en dierbaar. En ek was bly om haar te sien, maar ook so hartseer,” vertel Naeem.

Trinity het hom gehelp om die rok vir haar loopplankdebuut te skep.

Lees ook: Opgewondenheid oor nuwe kankerbehandeling

Sy het haar gunstelingkleur, kersierooi, vir die rok gekies en dit is so gemaak dat dit die medikasie verbloem wat deur haar bors toegedien word.

Naeem se span het deur die nag gewerk om dié unieke ontwerpersrok met die hand te maak.

Op die dag van die modevertoning het Trinity soos ’n prinses gevoel.

“Hulle het haar soos ’n supermodel behandel,” vertel haar ma.

Sy het in die voorste ry van die modevertoning gesit. Daarna het Naeem haar op die verhoog genooi.

“Haar hand het gebewe, toe sit ek eerder my arm om haar en fluister vir haar: ‘Dis jou dag,’” sê hy.

En dit was; supermodelle kan net droom daarvan om hul loopplankdebuut met die ontwerper self te deel.

– Saamgestel deur Saskia Hill

Bronne: fashionweekonline.com, today.com, teenvogue.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

Het jy sonde met die bure? Hier’s raad

Afrikaanse sangeres sterk aan ná groot knieoperasie

Wat jy alles moet weet oor meningitis-uitbreking op Mosselbaai

’n Fotoverhaal: Legendariese ‘prentjiemaker’ Jans Rautenbach vier 80