Want elke Donderdag is hulle vir ’n uur lank dansers.  

Die Dance for Parkinson’s-klasse in Playhouse Teater in Somerset-Wes. Foto: Gys Visser

“Hulle voel soos hulself, nie mense met Parkinson se siekte nie,” sê Julie Symmonds, een van die twee dansinstrukteurs. 

Presies 18 maande gelede het Julie en Carmen Davidson die eerste Dance for Parkinson’s-klasse in Suid-Afrika begin. Dié gespesialiseerde klasse help Parkinsonsiekte-lyers om hul beweeglikheid te herwin en met ander kontak te maak wat ook die siekte het. 

Die grootste groep is in Somerset-Wes, in die Wes-Kaap, en dan is daar ’n kleiner groep in Kaapstad.  

Nadat Audrey Beesly, nou een van die Somerset-Wes-groep se lede, vir Julie van dié klasse vertel het, is sy New York toe vir opleiding om self die kursus aan te bied. Sy het daarna in aanraking gekom met Carmen, wat ook dié kursus wil voltooi. 

Foto: Gys Visser

Die program is begin en ontwikkel deur Olie Westheimer, ’n afgetrede danser. Haar neuroloog-man het Olie gevra om ’n ondersteuningsprogram vir Parkinsonsiekte-lyers te lei en sy het in haar werk met die pasiënte iets interessants opgemerk.  

As danser het Olie geweet hoe belangrik balans, ritme en koördinasie is en sy besef toe dit is presies die uitdagings waarmee Parkinsonsiekte-lyers worstel. Daarna het sy met die hulp van die Mark Morris-dansgroep die program ontwikkel en dit internasionaal versprei. Vandag is daar klasse in 120 gemeenskappe in 20 lande. 

Parkinsonsiekte tas sowat 1% van alle mense bo 60 aan. Dit is naas Alzheimersiekte die degeneratiewe neurologiese siekte wat die meeste voorkom. Die eerste tekens is gewoonlik bewerasies, waarna die pasiënt ook begin sukkel met meer algemene bewegings, soos om te loop. 

Die oorsaak van die siekte is steeds onbekend en daar is nog geen genesing daarvoor nie. 

Die doel van die program is om tydelike verligting te bied van die simptome en deelnemers se selfbeeld en gemoedstoestand te lig. 

Jimmy Golding tydens die Dance for Parkinson’s-klas, ’n eerste in Suid-Afrika. Foto: Gys Visser

Die program se impak op die deelnemers is binne minute sigbaar en in die groep is daar reeds talle suksesstories, soos dié van Hans.

“Vir die eerste klasse het hy met ’n wandelstok hier ingekom en tydens al die oefeninge net gesit. Nou neem hy omtrent voluit deel aan al die klasse en al stap hy steeds met sy stok in die hand hier in, gebruik hy dit nie eens nie. Soms vergeet hy selfs sy stok wanneer die klas verby is”, vertel Julie.

 Albei is baie verbaas oor die hoeveelheid mans wat vir hul klasse opdaag.

Ek het altyd gevoel jy kan meer bereik met dans as om net meisies te leer hoe om ballet te doen.
Carmen Davidson

Dit het ook die lewe van dié twee instrukteurs verander. Albei rig al vir dekades ballet af, maar het begin voel hulle wil graag ’n groter bydrae maak.

 “Dit is die beste ding wat ooit met my gebeur het”, verklaar Julie onomwonde.

 Vir Carmen voel dit asof sy uiteindelik haar nis gevind het.

“Ek het altyd gevoel jy kan meer bereik met dans as om net meisies te leer hoe om ballet te doen.”

Carmen Davidson tydens een van die Dance for Parkinson’s-klasse. Foto: Gys Visser

Tog is dit vir hierdie twee pioniers net die begin. 

“Ons droom is om hierdie klasse na al die groot stede in Suid-Afrika te neem”, vertel Julie.

“Daar is baie ander mense wat ook graag hierdie klasse wil aanbied en ons hoop om ons eerste plaaslike opleiding voor die einde van die jaar te voltooi,”  voeg Carmen by.  

Nadat Julie in Oktober vanjaar die volgende vlak van die kursus in New York voltooi het, sal sy instrukteurs in Suid-Afrika kan oplei. 

“Ons gáán dit maak werk”, sê sy. 

Bronne: Turning StepsDance For Parkinson’sParkinsonsdisease, PDF.org