endu_1

Wel, as jy nie beplan om binnekort ’n draai  by ’n vulkaan te maak nie, kan Google Maps jou nou help om daar uit te kom. En net soos jy met die bekende Street View-funksie virtueel in strate op en af kan loop, kan jy ook virtueel ’n aktiewe vulkaan van alle kante beskou.

Google het die afgelope week verbruikers in ’n blog-inskrywing uitgenooi om op die rand van ’n vulkaan op die Vanuatuaanse eiland Ambrym te gaan staan.

vulkaan_3

Die avonturiers Geoff Mackley en Chris Horsley het 400 m in die Marumkrater afgegaan om met Google se “Street View Trekker”-kameras 360 grade se beelde van die vulkaan vas te lê.

Die rooi lawameer is glo byna so groot soos twee rugbyvelde.

vulkaan_2

“Dit is ongelooflik om op die rand te staan en die hitte teen jou vel te voel,” sê Chris in Google se verklaring op die blog. “Noudat dié plek deel is van die kaart, hoop ek mense besef in watter mooi wêreld ons leef.”

Jy kan ook die dorpie Endu op die eiland bekyk.

Die hoofman van dié dorpie, net bekend as Moses, sê hulle glo die twee vulkane op die eiland – Marum en Benbow – is duiwels.

“Benbow is die man en Marum is die vrou. Wanneer hulle nie oor iets saamstem nie, is daar ’n uitbarsting. Dit beteken die geeste is baie kwaad.”

Volgens Moses offer hulle dan ’n vark of ander dier om die vulkane tevrede te stel.