Op Donderdag 21 April het die pleidooi van ’n Gautengse ma Huisgenoot-lesers se hartsnare geroer toe sy om hulp smeek nadat dokters “nie meer antwoorde gehad het” oor hoe om haar dogter se rare siekte te behandel nie.

[caption id="attachment_124309" align="alignnone" width="600"]Klein Chadé is in hierdie stadium stabiel, maar in erge pyn in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Foto: Verskaf Klein Chadé is in hierdie stadium stabiel, maar in erge pyn in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Sowat ’n jaar gelede is viserale miopatie by die sesjarige Chadé van Niekerk van Birchleigh in Kempton Park gediagnoseer. Sedertdien was sy so baie in die hospitaal, sy moes haar gr. 1-jaar kortknip. Viserale miopatie is ’n seldsame siektetoestand wat die werking van die dermkanaal en die spierweefsel affekteer. Kos kan nie deur die dermkanaal beweeg en deur die liggaam opgeneem word nie.

Lees ook: ‘Dokters was oortuig sy gaan nie oorleef nie,’ vertel ma van vroeggebore baba wat vandag floreer

“Chadé is na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad verwys. Die dokters hier het nie meer antwoorde nie, maar by die Rooi Kruis is ’n professor in pediatrie wat alles van die siekte weet en sal kan help,” het Charlotte vroeër gesê. Dié enkelouer is boonop op 8 April afgedank omdat sy glo te veel afwesig was weens haar dogter se gesondheid.

Ná berigte hieroor op onder meer huisgenoot.com is Charlotte-hulle danksy weldoeners afgevlieg na Kaapstad, waar klein Chadé in die Rooi Kruis-kinderhospitaal behandel word. Prof. Alp Numanoglu, ’n vooraanstaande pediater, is gesien as haar groot hoop op herstel.

[caption id="attachment_124310" align="alignnone" width="600"]Chadé se ma, Charlotte, waak gereeld oor haar by die hospitaal. Foto: Verskaf Chadé se ma, Charlotte, waak gereeld oor haar by die hospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Charlotte is nog baie bekommerd oor hoe lank hulle in die Kaap sal kan bly en hoe hulle daarvoor gaan betaal, maar sy is verlig dat hulle wel by die hospitaal kon uitkom en iemand nou meer duidelikheid kan gee oor haar dogter se gesondheid.

“Sy is in die hospitaal. Die professor het ons gesien. Hulle het ook ’n hele klompie ander goed gesien wat fout is met haar,” vertel Charlotte. Dokters is glo besig met ’n reeks toetse om te bepaal wat alles fout is met Chadé. In hierdie stadium weet hulle die siekte het haar slukderm beïnvloed, wat die reeds ingewikkelde voedingsituasie verder bemoeilik.

[caption id="attachment_124311" align="alignnone" width="600"]Die klein rooikoppie is 'n ware vegtertjie. Foto: Verskaf Die klein rooikoppie is 'n ware vegtertjie. Foto: Verskaf[/caption]

Chadé moet vir die volgende drie tot vier weke in die hospitaal wees vir toetse. “Sy is baie emosioneel,” sê haar bekommerde ma. “Sy eet en drink nie regtig nie.” Mediese personeel hou ’n wakende oog oor Chadé en sodra voeding ’n groter probleem word, sal hulle haar deur ’n buis voer. Sy is in hierdie stadium stabiel, maar ervaar glo baie pyn.

Charlotte se ma, tannie en klein Chadé se vyfjarige boetie, Juan-Pierre, is in Kaapstad en staan mekaar by – die volwassenes pas Chadé en haar boetie om die beurt op.

“Ek is emosioneel en liggaamlik gedaan, maar die Here se genade dra my elke dag en leer my hoe om die situasie te hanteer,” sê Charlotte. “Ter wille van Chadé moet ek sterk bly. Ek kan nie my kind aan haar eie genade oorlaat nie.”

Ander stories op Huisgenoot.com

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

‘Hulle help my deur my donkerste tye’: Jong kwadrupleeg spandeer haar lewe om soos Barbie en Britney Spears te lyk

Kyk: AB de Villiers se vrou, Danielle, het ’n verborge talent en ons is gek daaroor!

Kyk net hoe oulik kap Kurt Darren se klein Kyrah dit uit!

Kyk net wat vang dié vrou met haar werkgewer se sap aan!