'n Bejaarde egpaar van Shanghai in China het 'n selfdoodbriefie op hul bure se deur gelaat voor hulle saam in hul slaapkamer doodgebrand het.

Die egpaar, beide 85 jaar oud, het in hul dankie-sê briefie die bure bedank vir al die hulp, maar geskryf dat dit "tyd is om te gaan". Net daarna het hulle self hul slaapkamer in 'n gesamentlike selfdoodpoging aan die brand gesteek.

'n Buurman het tevergeefs probeer om die vlamme te blus. "Hulle het hand-aan-hand langs mekaar gelê," het die buurman gesê.

Volgens hom het die twee mekaar ontmoet toe hulle in hul vyftigerjare was. Vier jaar gelede het die vrou verlam geraak.

"Hy het sy bed langs hare geskuif sodat hulle saam kon wees."

Hul dood het tot 'n veldtog op sosiale media gelei waarin versoek word dat China se wette op bystand-selfdoodwette verander moet word.

"Niemand verdien om so te sterf nie, iets moet verander," is van die kommentaar wat op sosiale media gedeel is.

Bronne: metro.co.uk, news.163.com