Sy is uiteindelik hier! Die sanger Pieter Smith het meer as 41 jaar op haar koms gewag.

[caption id="attachment_155021" align="aligncenter" width="602"]Die sanger Pieter Smith se baba is Donderdag gebore. Foto: Verskaf Die sanger Pieter Smith se baba is Donderdag gebore. Foto: Verskaf[/caption]

“Alexei is gebore. Ma en baba is gesond! Dank die Heer!” kondig Pieter dit op sy Facebook-blad aan.

Sy is Donderdag om 12:26 in Pretoria met behulp van ’n keisersnee gebore. “Mamma is fine. Sy wil net opstaan en loop,” vertel Nadia van Rensburg, vriendin en bestuurder van Pieter, oor die nuwe mamma Yolandi (34).

“Pieter is ’n modelpa. Jy kan nie glo hoe behendig is daardie groot hande om die klein lyfie nie. Hulle is reeds besig om ’n lekker verbintenis te smee,” voeg Nadia by.

“Ons is so opgewonde,” het Pieter op 12 Augustus verlede jaar eksklusief aan Huisgenoot gesê. “Ek word pa. Op 41!”

[caption id="attachment_155023" align="aligncenter" width="550"]Pieter en sy vrou, Yolandi. Foto: Facebook Pieter en sy vrou, Yolandi. Foto: Facebook[/caption]

Yolandi was toe ongeveer vier maande swanger en Pieter onthou die dag toe Yolandi die swangerskapstoets moes doen. “Ons was natuurlik nogal op ons senuwees. Ek word nie jonger nie.”

“En gelukkig het die meeste van ons vriende dogters. Dis ’n voordeel, want ons leer maar by ons pelle. Ons het ook al ’n hele klomp presente gekry.”

Pieter en Yolandi is in November 2015 op Lambertsbaai getroud.