Kevin Jonas en sy vrou, Danielle, het bekendgemaak hulle gaan ’n babadogter ryker word.

Die egpaar het verlede maand aangekondig Danielle is swanger en op Donderdag 29 Augustus via Ustream met bewonderaars gedeel dat dit ’n dogtertjie is.

Kevin (25) het gesê: “Ons kry ’n dogtertjie . . . Ek gaan die pa van ’n klein dogtertjie wees! Ongelooflik. So opgewonde.”

Die onthulling sou aanvanklik op die Jonas iTunes-app verskyn het, maar die stelsel het gevou en bewonderaars is na ’n ander webtuiste herlei.

Die voornemende pa het ná die aankondiging getwiet: “Dis ’n dogtertjie!!!!! Baie dankie almal! Sy suig haar duim!”

Danielle (25) het bygevoeg: “Dis ’n dogtertjie!!! Ek is so bly ek kon alles bekendmaak en nie geheime hê nie; dis so lekker. Dankie vir al die opgewonde twiets.”

Kevin het vroeër verklap hy wens dis ’n dogtertjie, want daar is baie mans in sy familie. Hy het gesê: “Ek sal daarvan hou om ’n dogtertjie tussen al hierdie seuns te sien. Maar as dit ’n seuntjie is – o toggie, dan begin ons met moeilikheid.”