Daniel Radcliffe sê sy nuwe lewe ná Harry Potter is allermins maklik.

Die 24-jarige ster wat in die towenaar-reeks gespeel het, sê dit sal nog lank duur voor hy nie meer met sy rol daarin vereenselwig word nie.

Daniel het Maandag by die jaarlikse Internasionale Rolprentfees in Toronto, waar hy rolle in The F Word, Kill Your Darlings en Horns vertolk, erken hy hoop die nuwe projekte sal die stereotipe help afbreek.

Hy het aan E! News gesê: “Daar sal nooit een rolprent wees wat my amptelik van Harry sal laat wegbreek nie . . . dis ’n proses.

“Maar ek dink beslis dat hierdie drie rolprente ’n deel daarvan is . . . jy maak nie ’n langtermynplan in die filmbedryf nie, want dis te moeilik.”

Daniel het al vertel hy hoop om soos Dustin Hoffman te wees en ten spyte daarvan dat hy kort is, ook ’n belangrike akteur in Hollywood te word.

Hy het gesê: “Ek kyk na Dustin Hoffman. Om die waarheid te sê het ek nou die dag by hom verbygeloop en hy is beslis aan die korter kant, soos ek.

“Maar hy was in al daardie groot rolle, van aksierillers tot romantiese goed. Daar is dus ’n manier om dit onkonvensioneel te doen as jy nie noodwendig soos die 1,8 m lange romantiese hoofrol lyk nie.”