Daniel Radcliffe sê danksy sy ouers het roem hom nooit oorweldig nie, want hulle het sy voete plat op die aarde gehou.

Die 23-jarige akteur het in 2001 in die kollig beland as die titelkarakter in die Harry Potter-fliekreeks en was danksy sy suksesvolle akteursloopbaan reeds op 19 ’n multimiljoenêr.

Maar die Britse ster sê sy ouers, Alan en Marcia, het hom help kophou. “Ek het baie goeie ouers. Ek is gelukkig in daardie opsig en baie bly daaroor. Ek was nog altyd geamuseerd met hoe walglik sommige akteurs optree,” het hy in ’n onderhoud met die tydskrif Time Out gesê.

“Dis een ding wat nooit op my stel sal gebeur as ek ooit in die regisseurstoel beland nie. Die lewe is te kort om met onbeskofte mense te werk. Ek was tot dusver gelukkig dat dit nog nie nodig was nie.”

Daniel, wat tans in die fliek Kill Your Darlings speel, sê hy hou van toneelspeel en is nie gepla oor geld nie. Hy is so toegewyd dat hy lanklaas ’n blaaskans gevat het.

“Ek is lief vir my werk en wil die reg verdien om dit elke dag te doen. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n blaaskans gevat het nie.”