Daniel Radcliffe sal by ’n rehabilitasiesentrum opgeneem word om hom te help ophou rook.

Die Harry Potter-ster – wat voorheen met drankverslawing geworstel het – gaan glo by ’n rehabilitasiesentrum opgeneem word wat berading, kruiekure en selfs sport bied om hom sy verslawing aan sigarette te help klop.

’n Bron het aan The Daily Star gesê: “Dit sal ’n soort inwonende behandelingsprogram wat berading, sowel individuele as groepstresbestuur en kruiebehandelings vir onttrekkingsimptome behels.

“Daar is ook ’n volledige oefenprogram wat swem, draf en joga insluit.”

Noudat sy drankverslawing in bedwang is, wil die 24-jarige akteur, wat glo tot 20 sigarette per dag rook, ook sy rooklus oorwin.

Die bron het gesê: “Daniel weet hy het ’n verslawende persoonlikheid en hy was in die verlede openlik oor sy drankduiwels.

“Gelukkig het hy dit reggekry om die bottel te laat staan. Nou beskou hy sigarette as sy groot slegte gewoonte en is hy vol vertroue hy sal weer sukses behaal.”

Die Woman in Black-akteur het voorheen erken hy het sy “bewussyn verloor” elke keer dat hy gedrink het, en dit het hom ’n “kluisenaar op 20” gemaak wat by die huis gebly en alleen gedrink het.

Hy het gesê: “Die drinkery was ongesond en nadelig vir my liggaam en my sosiale lewe. Dit is onteenseglik.

“Ek het in voortdurende vrees gelewe oor wie ek raakgeloop het, wat ek dalk vir hulle gesê het, wat ek dalk met hulle gedoen het; daarom het ek dae lank in my woonstel gebly en alleen gedrink.

“Ek was ’n kluisenaar op 20. Dit was pateties – dit was nie ek nie. Ek is ’n prettige, beleefde mens en dit het my in ’n onbeskofte, vervelende mens verander.”