DIT moes in Januarie 2006 gewees het. Ek was die oggend in ’n toilet in die Hatfield Plaza in Pretoria toe my selfoon lui. En toe ek antwoord, sê ’n stem waarin die Peter Stuvesant effe deurslaan, aan die ander kant: ‘‘Hallo, dis Frank Opperman hier.’’

Ek spring op en draf buitetoe, tot tussen die mense in die sentrum.

’n Man kan darem nie in ’n toilet met dié Frank Opperman gesels nie.

‘‘Kan ons die een of ander tyd ’n bier gaan drink?’’ vra Frank. ‘‘Ek wil met jou oor iets praat.’’

Ek stem dadelik in, want ek het hom nog altyd as akteur bewonder. Eers toe ek my selfoon terugdruk in my broeksak, sien ek dit: My broek se gordel is steeds los en my gulp is oop.

’n Paar dae later ontmoet ek en Frank mekaar in Melville. Nog voor die kelnerin die bier gebring het, wil hy weet of ek nie vir hom ’n drama, ’n eenmanstuk, kan skryf nie.

Ek probeer geïnteresseerd klink. ‘‘Waaroor?’’ vra ek. ‘‘Oor ’n man – ’n ou wat voel of sy dinges met ’n broodmes afgesny is.’’

Later ry ek terug huis toe, en dink: Ten minste kan ek nou sê Frank Opperman het my al gevra om vir hom ’n eenmanstuk te skryf oor ’n man wat voel of sy dinges met ’n broodmes afgesny is. Maar, nee dankie, besluit ek, van toneelskryf weet ek niks, en vir akteurs is ek skrikkerig.

So drie weke later bel Frank weer. Hy wil net hoor hoe ek met sy stuk vorder. Het ek in die koerant gesien inskrywings vir die Aardklop-kunstefees sluit oor twee weke?

Toe leer ek die eerste keer ’n ding oor Frank: Hy droom groot en as jy nie begin saamdroom nie, gaan hy jou nie sommer met rus laat nie.

Ek mompel iets van ek sal kyk wat ek kan doen, maar toe ek die foon neersit, dink ek: Jou maai, Frank, ek gaan dit nie doen nie.

Ek is doodtevrede om rubrieke en stories te skryf. Maar toe begin teem so ’n simpel stemmetjie in my kop: ‘‘Jy is darem ’n ondankbare blikemmer. Een van die beste akteurs in die land vra jou om vir hom iets te skryf, en jy weier.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 5 Augustus 2010