“En toe raak ons verloof, ek en liewe Anette Roberts! Laas Donderdagmiddag. Iewers in die Koue-Bokkeveld anderkant Ceres.

“Miskien sal ek eendag ’n boek daaroor skryf: hoe ons afsonderlik moedeloos en gekwel was, hoe ons ontmoet het, hoe ons verlief geraak het . . . Dis ’n patetiese, wonderlike, skrikwekkende, dankbare ding om in jou middeljare verlief te raak. Jy ervaar emosies waarvan jy vergeet het. Jy raak effe simpel. Jy wil weer begin om dinge soos “Dankie dat jy jy is,” in jou liefdesbriefies te skryf,” skryf Dana in die inskrywing.

Dana sê telefonies aan Huisgenoot hy het die verlowing beplan, die ring gekoop en daarmee rondgeloop.

Hulle was in die Koue Bokkeveld toe Dana die groot vraag vra.

“Ek het ’n ding oor die plek en daai pad wat Berggans toe lei.” Die (Boerneef)-gedig wat lees “die berggans het  ’n veer laat val,” is een van die mooiste gedigte wat daar is,” sê Dana.

Die gedig lui: Die berggans het ’n veer laat val; van die hoogste krans by Woeperdal; my hart staat tuit al meer en meer; ek stuur vir jou die berggansveer; mits dese wil ek vir jou sê; hoe diep my liefde vir jou lê.

En nadat Dana gevra het, het Anette “dadelik ja” gesê.

Dana het reeds sy huis op Jacobsbaai verkoop en hy en Anette het saam ’n huis gekoop.

Op Facebook het Dana geskryf hulle was albei voorheen getroud. “Ons het geleef, opreg geleef en foute gemaak. Ek wil nie te veel verduidelik nie. Ek en Anette is lief vir mekaar, en ons is sag met mekaar. Anette woon in Bloemfontein; ek op Jacobsbaai.

“Ons ervaar soveel sagtheid en liefde van soveel mense,” het Dana geskryf.