Dan Carter ’n verbodemiddel-verneuker? Nooit as te nimmer nie . . .

Dit was die reaksie van die meeste van die gewilde All Black-legende se menigte aanhangers toe ’n opkikkerstorm onlangs losbars. Dan en twee van sy spanmaats by die Franse klub waar hy nou steeds skitterende rugby speel, is betrek.

Die aanhangers was toe heeltemal in die kol. Dan kon Dinsdag in die sosiale media aankondig die Franse Rugbyfederasie (FFR) het hom vrygespreek van enige oortredings wat middelmisbruik betref.

Dit volg nadat die Franse dagblad L’Équipe vroeër ’n opskudding in rugbykringe veroorsaak het. Hulle het berig Dan (34), sy voormalige All Black-spanmaat Joe Rokocoko (33) en die Argentyn Juan Imhoff (28) het ná die Franse Top14-eindstryd positief getoets vir kortikosteroïed. In dié kragmeting het hul Racing Metro-klub ’n onverwagte sege oor Toulon behaal.

Dan het nou op Instagram en Facebook verklaar: “Dis geen verrassing dat die FFR bevind het ek het niks verkeerds gedoen nie. Ek stel my integriteit en rugby s’n hoog op prys.” Hy het weer benadruk hoe gek hy oor die spel is en hoeveel hy daaraan verskuldig is. Hy het ook gesê hy sal nooit iets doen wat dit in oneer bring nie.

A photo posted by Dan Carter (@dancarter_) on

Die 2015-Wêreldbeker-held en wêreldrugbyspeler van die jaar het ook almal bedank wat hom en sy vrou, die aanvallige Kiwi-hokkieheldin Honor Dillon, deur alles ondersteun het.

Dit blyk die verbode middel waarvoor Dan en sy spanmaats positief getoets het, het op heel onskuldige wyse in hul gestel beland. Kortikosteroïed word dikwels gebruik om inflammasie en gewrigspyn te behandel.

Dan en Joe se agent het vroeër gesê die twee het vir ’n voorgeskrewe behandeling “terapeutiese kwytskelding” gekry omdat hulle met ligte beserings gesukkel het. Die gewraakte middel het daarin voorgekom. Racing het verklaar die FFR-bevinding het nou bevestig nóg die spelers nóg hul klubdokter het enige reëls oortree.

Model-gesinsman

Intussen lyk dit of Dan en sy jong gesin die lewe in Frankryk geniet, te oordeel na wat Honor in die sosiale media wys en vertel. Die voormalige Black Sticks-hokkiespeler, wat al saam met Dan in onderklerereklameveldtogte verskyn het, het vroeg vanjaar wel die tonge laat klap met ’n iewat kriptiese twiet dat sy “weier om ’n skaduwee vir my man se lewe te wees”.

Maar sedertdien het sy weer talle sosialemedia-inskrywings en -kiekies geplaas wat dui op ’n meestal gelukkige huwelik en gesinslewe: van “vrolike vakansies”, skermerkelkies in Korsika, Dan wat saam met die oudste van hul twee seuns, Marco (3), deur die strate van Provence draf, en haar “ware heer van ’n man” wat ’n ou Franse vrou haar kruidenierware heelpad huis toe help dra.

Dan, speler van die wedstryd in verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd, het juis in ’n eerstepersoonsartikel vir ’n sportwebtuiste onthul hy het tydens sy wedloop om betyds vir daardie toprugbyskouspel van beserings te herstel begin wonder of hy moet uittree. Honor het hom omgepraat om deur te druk. “Sy was my rots. Was dit nie vir haar nie, het ek dalk al veel vroeër my stewels weggepak.”  

 

Bronne: Reuters, Facebook, Instagram, nzherald.co.nz, stuff.co.nz , dancarter.com