“Ek is geweldig opgewonde en dit voel vir my na een groot avontuur wat voorlê,” sê Nadia Beukes, nadat dit pas bekend geraak het dat sy Angelique Gerber gaan vervang as die aanbieder van die nuwe seisoen van Boer Soek ’n Vrou. Verfilming begin binne die volgende paar maande.

“Omdat dit ’n werklikheidsreeks is, dink ek dit gaan ’n geweldige avontuur wees en ek sien vreeslik uit daarna om met mense te werk. Ek dink dit gaan vir my net so ’n ontdekkingsreis wees as wat dit vir die kykers en boere gaan wees.”

Nadia self het nie ’n man in haar lewe nie. Dalk moet sy sommer ook vir haar ’n boer losslaan?

Sy lag. “Hierdie keer is ek die aanbieder; dus gaan geen boer my oog vang nie, maar ’n mens weet nooit wie se oog ék dalk vang nie,” skerts sy.

“Maar op ’n ernstiger noot: Aanbieding was nog altyd my eerste liefde en ek is baie opgewonde oor die geleentheid om nou ’n anker te wees. Ek wil my nou heeltemal hierop toespits en ’n sukses daarvan maak. En een van die lekkerste goed is dat ek net myself kan wees; ek hoef nie in ’n rol in te klim nie.”

Sy kom al ’n lang pad met kykNET saam, en beskou dié geleentheid as die begin van ’n nuwe hoofstuk saam met die betaalkanaal.

“Ek sien ook baie daarna uit om die land vol te toer op soek na hubare boere. Ons begin een van die dae.”

- Suzanne Venter