Die oortreding? Die posduif was in besit van ’n waarskuwingsbrief wat aan die Indiese eerste minister, Narendra Modi, gerig is. Grensveiligheidspersoneel het die posduif, wat nou as ’n ware ongeluksvoël bestempel kan word, by Pathankot in die noordelike staat Punjab in Indië gevind.

Dit is in die gebied waar Pakistan-gebaseerde militante groepe in Januarie vanjaar ’n dodelike aanval op die Indiese lugmagbasis uitgevoer het.

Vermoedelik kom die boodskap uit Pakistan, want dit is in Oerdoe, een van die tale wat in daardie land gepraat word, geskryf.

Losweg kom die boodskap daarop neer dat die eerste minister gewaarsku word dat die briefskrywer en bondgenote “nie dieselfde mense van 1971 is nie. Nou is elke kind gereed om teen Indië te veg.”

In 1971 het die laaste oorlog tussen Indië en Pakistan gewoed.

Dis nie die eerste keer dat voëls deur Pakistan ingespan word om boodskappe na hul bure te stuur of te spioeneer nie.

1. In 2010 is ’n posduif aangehou as gevolg van “spioenasie-vrese”.

2. In 2013 het die Indiese veiligheidsmagte ’n dooie valk gevind met ’n klein kamera aan die voël geheg.

3. In 2015 is ’n posduif nie net aangehou nie; X-strale is van die arme voël geneem om seker te maak daar is nie ’n spioenasiekamera, sender of weggesteekte mikroskyfie te bespeur nie.

Posduiwe tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het posduiwe ’n sleutelrol in die stuur van boodskappe gespeel. Meer as 100 000 van die gevleuelde boodskappers het ’n verstommende 95 persent van hul boodskappe by hul bestemmings afgelewer.

Die posduif Winkie het selfs die Dickin-medalje vir haar heldedaad tydens die Tweede Wêreldoorlog ontvang.

Sy was aan boord van ’n bomwerper wat in die middel van nêrens in ysige waters neergestort het. Die bemanning het hul hoop op haar gevestig. Winkie het byna 194 km gevlieg tot waar sy by haar eienaar uitgekom het.

Die bemanning is gered nadat berekenings gemaak is volgens haar spoed, die wind en die olie op haar vere.

Bronne: theguardian.com, independent.co.uk, bbc.co.uk