Dakota Johnson en Charlie Hunnam kry die hoofrolle in die rolprent Fifty Shades of Grey.

Die minder bekende 23-jarige aktrise sal die rol van Anastasia Steele vertolk, terwyl die 33-jarige akteur haar minnaar, Christian Grey, in Sam Taylor-Johnson se verwerking van die erotiese roman sal uitbeeld.

Die Fifty Shades of Grey-skrywer, E.L. James, het die aankondiging Maandag op haar Twitterblad gedoen.

Haar reeks twiets het gelui: “Goeiemôre, almal. Hou jul hoed vas . . . ek is verheug om julle te laat weet dat die pragtige Dakota Johnson ingestem het om ons Anastasia te wees in die rolprentverwerking van Fifty . . . So . . . Christian . . . Die aantreklike en talentvolle Charlie Hunnam sal Christian Grey in die rolprentverwerking van Fifty Shades of Grey wees.”

Dakota het al verskyn in The Social Network, waarin sy in ’n liefdestoneel saam met Justin Timberlake was, en het klein rolletjies in 21 Jump Street, The Five-Year Engagement en Beastly gehad.

Sy is die dogter van Don Johnson, veral bekend om die TV-programme Miami Vice en Nash Bridges, en sy eks, die aktrise Melanie Griffith.

Daar word gemeen dat die vervaardigers die rol aan Dakota gegee het omdat hulle wou hê ’n jong, opkomende aktrise moet die rol van die maagdelike Anastasia vertolk, wat saam met haar S&M-behepte baas, Christian, op ’n intense seksuele ontdekkingsreis gaan.

Die Britse akteur Charlie se vorige werk behels ’n hoofrol in die TV-reeks Sons of Anarchy en ’n rol in Guillermo del Toro se treffer Pacific Rim.

Fifty Shades of Grey word deur Universal vervaardig en word in August 2014 uitgereik.