So haatdraend soos sy altyd was, en miskien steeds is, spook Daisy de Melkcer tot vandag toe nog op feitlik elke plek waar sy gewoon of gewerk het, as gevangene aangehou is en waar sy gesterf het.

Daisy het gou besef sy kon heel gemaklik lewe met die erflating van haar eerste twee mans, wat sy toe ook wreed vergiftig het. Sy was uitgeslape en het haar talent vir toneelspeel meesterlik gebruik om die moorde te kamoefleer.

Terwyl haar man hulpeloos op die vloer gelê het, worstelend in ’n doodstryd gewikkel met sy lyf stuiptrekkend aan die ruk van die pyn, sy hande wyd oopgesper terwyl hy na iets soek om op te byt om die pyn te verlig, sou Daisy na die bure hardloop en heel onskuldig om hulp gaan vra.

Maar, die gewetenlose Daisy het selfs so ver gegaan om ’n polis op die lewe van haar eie seun uit te neem. Hy kon die opbrengs van dié polis op sy 21ste verjaardag opeis, maar kort voor dié mylpaal, het hy ook gesterf – aan vergiftiging.

Die opbrengste van die polis is egter wel opgeëis, deur sy eie ma, die gifmoordenares, Daisy de Melcker.

Dit was die apteker by wie sy die gif gekoop het, wie se getuienis in die hofsaak die spyker in haar doodskis was.

Tydens die hofsaak was Daisy koel en kalm, ’n toonbeeld van onskuld. Soos ’n beroemde filmster het sy glimlaggend elke oggend na die volgepakte hofsaal gewuif.

Maar nadat die hof die doodstraf oor haar uitgespreek het, het sy verbleek, haar glimlag het verstar terwyl haar hande bewend die reëling voor haar vasgeklem het.

Haar derde man, Syd de Melker, het regdeur die hofdrama in haar onskuld geglo. Min het hy egter toe geweet hoe gelukkig hy was dat hy haar dade oorleef het.

Ná haar galgdood is van haar besittings, onder meer ’n stukkende gramradio, opgeveil.

Die nuwe eienaar het dit vir herstelwerk na ’n tegnikus geneem, maar toe die tegnikus die agterkant oopskroef, ontdek hy ’n weggesteekte koevert binne-in die radio. Op die koevert was geskryf: For dear old Syd.

Die wit poeier in die koevert is ontleed; dit was arseen.

Deur Jaco Hough-Coetzee

  • Inligting verskaf deur die Pretoriase Spookbus-toerproduksie.

Besoek www.spookbus.co.za om die volgende toer op 30 November by te woon.