’n Dagsorgeienaar, Nataliia M. Karia (42), het ’n 16 maande oue babaseuntjie by haar sorgsentrum in Minneapolis, Amerika, opgehang en toe in haar bussie op die vlug geslaan.

“Dis afgryslik, dis afgryslik,” het Kris Arneson, assistent-polisiehoof, oor die voorval gesê. Sy het ook bevestig dat die seuntjie nie die sorgwerker se kind is nie. Die baba is lewend gevind toe ’n ouer by die dagsorgsentrum aankom om haar kind af te laai. Hy is hospitaal toe geneem en sy toestand word as bevredigend bestempel. Die voorval het Vrydag, 18 November, plaasgevind. Nataliia het in haar goudkleurige voertuig van die dagsorgsentrum af weggevlug en verwoesting gesaai in haar haas om weg te kom.

Naas die seuntjie was haar volgende slagoffer ’n man wat naby sy eie voertuig gestaan het. Nataliia het bo-oor hom gejaag en haar voertuig het hom ’n aansienlike afstand saamgesleep. Hy het gebreekte bene en kwaai skrape opgedoen. Luidens berigte word sy toestand as kritiek bestempel.

Daarna het sy ’n fietsryer getref. Hy het genadiglik net met ’n gebreekte been daarvan afgekom.

  Minute later het Nataliia se bussie ook die ses maande swanger Nicole Thomas (33) se motor getref. “Dit was skrikwekkend,” het Nicole aan Star Tribune gesê. “Maar gegewe die omstandighede voel ek baie gelukkig. Ek hoop dat almal wat hierby betrokke was, ook oukei is.”

Sowat 20 minute later het Nataliia op ’n brug oor die besige I-94-snelweg geparkeer en gedreig om af te spring, maar omstanders het haar beetgekry en vasgehou tot die polisie haar in hegtenis geneem het.

Tot dusver is daar nog geen motief vir Nataliia se poging tot moord op die kind nie. Sover bekend word sy nog vir waarneming in ’n hospitaal gehou.

Bronne: startribune.com, news.shopatmain.com, washingtonpost.com, insedempd.com