Op die dag van die tragedie het Edward John Herbert van Perth, Wes-Australië baie gedrink en dagga gerook, het ’n hof pas gehoor. Die driejarige het dit net-net oorleef toe haar pa petrol oor haar en haar vyfjarige sussie uitgiet en haar aan die brand steek. Die ouer sussie is nie aan die brand gesteek nie. Hulle het ook ’n sewejarige boetie. ’n Polisiebeampte wat langsaan bly, het die gille gehoor en die meisie te hulp gesnel, berig Daily Mail.

Edward het in die Wes-Australiese hooggeregshof skuld ontken op grond van waansin. Sy dogter het in Augustus 2015 “erge en lewensbedreigende brandwonde” opgedoen.

Hy het daardie dag dubbel soveel dagga as gewoonlik gerook, het sy lewensmaat in ’n verslag aan die hof erken. “Hy was heeltyd kwaad,” het die staatsaanklaer, Amanda Forrester, uit die verklaring voorgelees. So het dit die hele dag aangegaan tot hy die aand geen beheer meer oor sy woede gehad het nie. Die vrou het bang geraak, veral toe hy begin skree “die weerwolwe kom”. ’n Paar uur later het hy vir haar gesê hy gaan haar doodmaak, maar is met ’n kan petrol na die driejarige dogtertjie se kamer, waar hy haar aan die brand gesteek het. Die polisiebeampte van langsaan, Stephanie Bochorsky, was van diens af en het die kind se gille gehoor. Sy kon nie haar trane keer toe sy die dogtertjie in vlamme op haar bed sien nie.

Sy het haar in komberse toegerol en met haar en haar boetie uit die huis gevlug.

’n Buurman, Dan McMillan, het ook kom help. Edward het glo aan hom gesê hy het die wrede daad gepleeg omdat sy dogtertjie “te mooi” was.

Hy het ook na bewering aan Dan erken hy sou dit nooit aan sy seuntjie doen nie. Die verhoor duur voort.

[caption id="attachment_65678" align="alignnone" width="600"]MendezEnrique via Compfight cc MendezEnrique via Compfight cc[/caption]

Is dagga altyd gevaarlik?

Zol, pot, spliff, boom of Mary Jane . . . noem dit wat jy wil, maar dagga is nie kinderspeletjies nie. Dit takel die immuunstelsel af en strem ontwikkeling.

Prof. Charles Parry, navorser van die Mediese Navorsingsraad (MNR), sê dit ry veral adolessente se ontwikkeling in die wiele.

“Dit verdoof die sintuie en die reeds kwesbare jong klomp verwerk nie dinge wat op hul pad kom nie,” waarsku hy. Pleks dat die kinders leer hoe om krisisse te verwerk, rook hulle dit weg, waarsku hy.

“Gereelde gebruik van dagga kan tot psigose lei,” waarsku Cindy le Grange, redakteur van Addict Magazine, ’n Suid-Afrikaanse tydskrif oor verslawing. ’n Vriend van haar het op 21-jarige ouderdom ’n hamer gebruik om sy kar vol duike te slaan en sy pa te probeer aanval.

“Bipolêre steuring is by hom gediagnoseer. Dit was toe hy ophou om sy medisyne te gebruik en en eerder net dagga begin rook, dat hy so uitgehaak het,’’ sê Cindy. “Sommige mense kan dagga rook sonder enige nadelige gevolge en dit los net wanneer hulle wil. Maar dit geld beslis nie almal nie.”

Dagga is die onwettige dwelm wat wêreldwyd die meeste gebruik word, toon statistieke van die Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik. Die THC – die verbinding in dagga wat jou “hoog” laat voel – kan mense laat terugval in psigose, vertel Charles.

Psigose is ’n ernstige sielkundige toestand wat gedagtes en emosies so aantas dat die persoon begrip van die werklikheid verloor.

“Hierdie gevolge is ernstig, maar dit moenie uit verband geruk word nie, want nie elke gebruiker sal sulke ervarings hê nie,” benadruk hy.

[caption id="attachment_165312" align="aligncenter" width="650"]Foto: Martin Alonso (flickr.com) Foto: Martin Alonso
(flickr.com)[/caption]

Tog is daggamisbruik ’n probleem in Suid-Afrika. Een studie van die MNR toon 14 persent van seuns tussen gr. 8 en gr. 11 in staatskole in Suid-Afrika erken hulle het die afgelope 30 dae dagga gerook. So ook 5 persent van meisies.

’n Ander studie deur dié raad toon hoe afbrekend dagga inderdaad kan wees. Tot 32 persent van alle mense wat weens die een of ander misdryf in hegtenis geneem word, word positief getoets vir dagga. Dié syfer geld in die Kaap.

Landwyd is bevind dat meer as 60 persent van die mense wat op dwelm- en alkoholverwante of huisbraakklagte in hegtenis geneem is, dagga in hul bloed gehad het. Dit is veral mense onder 20 wat met ’n daggaprobleem sukkel.

Verder is dit nie altyd moontlik om te weet of die dagga “organies” is nie. Daar is kwekers wat dit week in ander dwelms soos LSD om dit meer skop te gee, sê Cia Barnes, ’n Kaapse dwelmberader van die Cape Town Drug Counselling Centre. Dit is dan onmoontlik om te voorspel wat die reaksie van die roker gaan wees, voeg sy by.

Hoe jonger kinders met dagga eksperimenteer, hoe groter is die kans dat hulle ook ander soorte dwelms gaan probeer en verslaaf raak, sê Lizette Arendse, maatskaplike werker by dieselfde sentrum.

Ekstra bronne: aol.com , mamamia.com.au , perthnow.com.au , mirror.co.uk