Miley Cyrus se ouers gee nie om dat sy dagga rook nie. 

Die Wrecking Ball-ster, wat al oor marijuanagebruik gepraat en blykbaar onlangs tydens die MTV European Music Awards ’n daggazol aangesteek het, sê haar ouers is nie kwaad oor haar liefde vir dié dwelm of dat sy afgeneem is dat sy dit rook nie.

’n Bron het aan Perez Hilton gesê: “Voor haar optrede op die Britse X Factor het Miley vir Nicole Scherzinger (’n beoordelaar) vertel haar ma, Tish, is nie juis ontsteld daaroor nie. Sy het gesê haar ma is baie oopkop.”

En haar pa, die countryster Billy Ray Cyrus, blyk ewe nonchalant oor haar onlangse omstrede gedrag te wees; sy het onder meer saam met die Blurred Lines-sanger Robin Thicke getwerk.

Die bron het bygevoeg: “Geen pa sien graag hoe sy dogter op die verhoog ’n man beklim of dwelms gebruik nie. (Maar hy) hoop dis net ’n fase.”

Daar is onlangs op Twitter onthul die 20-jarige het haar bruin wenkbroue blond gekleur vir ’n fotosessie saam met die modefotograwe Mert Alas en Marcus Piggott, bekend as Mert and Marcus.

Miley het saam met die Hard Out Here-sangeres, Lily Allen, en model Miranda Kerr kliphard partytjie gehou. Miranda het ’n foto van Miley se voorkoms op Instagram gedeel.