Dit klink amper te bisar om waar te wees, maar dit is waar: In Suid-Afrika stap ’n man rond met ’n stewige stuk van sy skedel in sy borsholte.

Op die 24-jarige Viarshan Naidoo se kop is ’n kaal kol waar die stuk skedel uit is, en op sy maag ’n reuse, geswolle letsel waar dit toe weer in is. ’n Lêer vol mediese verslae en hospitaalrekeninge vertel die verhaal van hoe dokters in Maart vanjaar ná ’n motorongeluk ’n deel van sy skedel uit sy kop verwyder het en tussen die spiere en vel onder sy ribbekas ingeplant het. En dit is ook nie sommer net so ’n stukkie nie – dit het ’n deursnee van 10 tot 12 cm, omtrent so groot soos jou oop hand.

Die skedelbeen word al die afgelope nege maande in die sagte weefsel aan die regterkant van Viarshan se lyf gebêre nadat ’n neurochirurg dit op 29 Maart uit sy kop gesny het om die drukking van sy geswolle brein teen sy skedel, wat noodlottig kon wees, te verlig.

Hy het ure tevore in die ongeluk ’n ernstige breinbesering en bloeding op die brein opgedoen, en sonder die operasie sou die bloedtoevoer tussen sy hart en sy brein so belemmer gewees het dat hy sou sterf.

Die neurochirurg dr. Dinesh Naidoo het ná die ongeluk by Viarshan se ouers verneem hul seun het nie ’n mediese fonds nie, en die dokter het geweet dit sou derduisende rande kos om die stuk skedel in die hospitaal te vries tot dit weer teruggeplant kon word.

’n Ander opsie was om die oop deel in die skedel later met mediese sement of ’n titaniumplaat te bedek, maar dít sou ook baie duur wees.

Dinesh het toe besluit om die skedelfragment op die enigste ander veilige plek buite ’n vrieskas te bewaar: binne-in Viarshan se eie lyf.

Toe dit uiteindelik blyk Viarshan gaan sy breinbeserings oorleef, het sy ouers besef hulle het inderdaad ook nie genoeg geld vir die operasie om die stuk skedel op sy plek terug te plant nie.

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 31 Desember.