Briljant! Dit is die ontwerper Gavin Rajah se indruk van Kate Middleton se pragtige trourok. “Dit is ongelooflike, dit het baie detail wat goed sigbaar is. Ek dink dit is net pragtig!”

Gert-Johan Coetzee beskryf die rok as eenvoudig en elegant. “Ek is mal oor die snit en die vol sleep. Dit het ‘n 50’s geval. Alexander McQueen is altyd in die kol.”

David Tlale is minder vlyend. “Ek is teleurgesteld. Dit is presies wat verwag is. Ek sou daarvan gehou het as sy iets meer wild en dramaties gekies het. Dit is oulik, maar niks om oor huistoe te skryf nie.”

Die tradisionele rok, ontwerp deur Sarah Burton van Alexander McQueen, het ‘n delikate kant-bostuk en ‘n ryklik geborduurde romp. Die sleep is kort – in teenstelling met die meters lange sleep van Diana se geskiedkundige trourok.

Anders as Diana, wat redelik bot gelyk het toe sy dertig jaar gelede met prins Charles getroud is, is Kate ‘n sprankelende bruid. Sy het heeltyd geglimlag agter haar eenvoudige sluier van net terwyl sy na die altaar gestap het.

“Jy lyk pragtig.” Dít was prins William se eerste woorde aan sy bruid Kate Middleton, nadat sy by die altaar van Westminster Abdy by hom aangesluit het.

Daar was ‘n paar gespanne oomblikke to William skynbaar gesukkel het om die ring aan Kate se vinger te kry. Maar hy het vasgebyt en toe kom die woorde waarop die wêreld gewag het: With this ring, I thee wed…”

Die wat gespekuleer het dat William sy bruid voor die kansel gaan soen nadat hulle in die huwelik bevestig is, is teleurgestel. Hulle het ewe bedees ‘n entjie van mekaar bly staan nadat hulle as man en vrou verklaar is.